Moet nie hierdie konsert misloop nie

0
2271

MARICELLE BOTHA

Tyd raak min vir plaaslike aanhangers van Afrikaanse musiek om kaartjies te koop vir die grootste musiekkonsert wat die Vrystaat nog gesien het.
360ProManagement en Bloemfontein Courant in samewerking met KykNet Musiek bring op 20 Maart 2015 Ek LOVE die Vrystaat met name soos Theuns Jordaan, Bobby van Jaarsveld, Robbie Wessels, Karlien van Jaarsveld, Corlea Botha, Ray Dylan, Monique, Adam Tas en Dewald Louw, na die Rosestad ter viering van die Vrystaat en sy mense.
Courant het vandeesweek ‘n bietjie met Christa Strydom van 360ProManagement gesels om te hoor wat Vrystaters van die besonderse konsert kan verwag.

Daar is ‘n aantal verskillende kaartjies beskikbaar. Wat behels elke kaartjie?
Omdat die verhoog voor die suidelike pawiljoen van die Vrystaat-stadion gebou word, word daar nagenoeg 9000 stoele op die gras gepak en gedeeltes van die laer pawiljoen word ook gebruik. Kaartjiepryse wissel van R100 per sitplek tot R450 per sitplek afhangend van waar jy sit en wat jou uitsig is. Die BBP-kaartjies is jou duurder kaartjies (R950 per persoon), omdat dit ‘n wynproe saam met die kunstenaars insluit op 19 Maart en BBP-sitplekke in die Presidensiële losie tydens die vertoning op 20 Maart 2015.

Hoe werk die stalletjies? Kan uitstallers jou nog kontak vir uitstalruimte?
Omdat die Vrystaters lief is vir kuier en soveel ouers hulle kinders die Vrydag by die koshuis kom haal, wil ons graag reeds vanaf 11:00 op 20 Maart om die stadion begin kuier met ‘n vlooimark. Mense kan my gerus nog kontak as hulle wil uitstal. Ons maak ‘n plekkie vir almal en ons wil baie stalletjies op die dag hê.

Vertel bietjie in detail oor die dag se verrigtinge, hoe laat gebeur wat?
Die hekke open reeds 11:00 op die dag van die konsert en die oggend se gebeure is baie informeel. Die klem val op lekker kuier, braai en snuffel, met sypaadjiekuns waar enige persoon ‘n blok kan bespreek en sy simboliek rondom Ek LOVE die Vrystaat kan uitbeeld met bordkryt voor die ingang van die hoofpawiljoen.

Waar het jy aan die idee gekom en hoekom die Vrystaat?
Ek was in die Vrystaat op skool – Hoër Landbouskool Kroonstad – en het maar verlief gebly op die Vrystaat soos wat ‘n jong meisie verlief bly op haar eerste liefde. Ek kon nooit verstaan waarom Vrystaters so ver ry vir die ander Afrikaanse konserte nie en wou graag vir die Vrystaat hul eie vertoning gee wat eg aan die Vrystaat is.

Sal daar kaartjies by die hekke beskikbaar wees?
Kaartjies by die hek gaan duurder wees, maar sal beskikbaar wees.

Hoekom moet mense dit nie misloop nie?
Hierdie vertoning is nie net ‘n eerste vir die Vrystaat nie, dis ook ‘n eerste van sy konsep in Suid-Afrika. Die gehoor word vir twee ure deel van ‘n reis met beeld en klank – ‘n definitiewe storielyn – wat hulle weer sal laat onthou waarom hulle harte so warm vir die Vrystaat klop. Die span agter die gordyne sluit onder andere vir Heidi Edelingh (Idols, Huisgenoot KKNK Skouspel onder die sterre en Afrivisie), wat die produksie hanteer, in. Neels Clasen (Binnelanders), is verantwoordelik vir die skryf van die teks en Wikus du Toit (Proesstraat), het die konsep Ek LOVE die Vrystaat geformuleer.
Ek dink dit is belangrik dat die mense sal weet dat hierdie vertoning regtig van ‘n baie hoë standaard gaan wees en vir elke ouderdomsgroep bedoel is. Dit is baie goeie gesinsvermaak, met ‘n stukkie romanse, ‘n hele klomp joligheid, diepte, en genoeg van die ‘wow’-effek. En ons wil die mense uitnooi om reeds van vroeg die middag om die stadion te kom braai en kuier en te deel in die egte Ek LOVE die Vrystaat-atmosfeer.

Kaartjies is by iTickets (www.iTickets.co.za) beskikbaar. iTickets is veilig en een van SA se grootste kaartjiekantore wat groot geleenthede landwyd hanteer. Indien mense verkies om by ‘n toonbank kaartjies te koop kan hulle gerus ook by die Cheetah-winkel in Loch Logan Waterfront kaartjies koop.

Kontak Strydom by christa@360promanagement.co.za om uitstalruimte te bespreek.