Moet jy dalk net een beleggingsfonds gebruik?

0
1401

HORACE TERRY 

Verlede week het ons begin gesels oor die opsies wat jy het wanneer dit kom by belê van geld in beleggingsfondse/effektetrustfondse. Die opsies wat ek genoem het was: om jou geld in ‘n enkele beleggingsfonds te belê of om te gaan sit,’n paar fondse te kies en jou geld oor dié fondse te versprei. Alternatiewelik kan jy die besluite oorlaat aan kundiges wat ‘n beleggingsportefeulje bestaande uit verskeie beleggingsfondse sal gaan saamstel en dit vir jou sal bestuur binne ‘n Saamvatfonds of Fonds van Fondse-struktuur. Vandag kyk ons bietjie meer na die opsie om slegs ‘n enkele beleggingsfonds/effektetrustfonds vir jou beleggingsbehoeftes te gebruik.

Die argument dat ‘n enkele beleggingsfonds goedkoper gaan wees as ‘n portefeulje van byvoorbeeld 5 beleggingsfondse, is nie waar nie. Inteendeel, die koste wat jy op een spesifieke beleggingsfonds betaal kan selfs hoër wees as die van ‘n portefeulje wat uit ‘n aantal beleggingsfondse bestaan. Na my persoonlike mening sal ‘n persoon slegs gebruik maak van ‘n enkele beleggingsfonds indien hy te min geld het om in ‘n aantal fondse te belê en sinvolle diversifisering dus moeilik is.

Die grootste gevaar om in slegs een beleggingsfonds te belê is konsentrasie-risiko. Jy maak staat op ‘n enkele batebestuurder se kennisvlakke en huissiening. Sou die batebestuurder dus verkeerd wees in sy verwagtinge rakende finansiële markte, sal jy 100% blootgestel wees aan dié oordeelsfout en dit kan jou geld kos in die vorm van beleggingsverliese. Sou jy egter steeds slegs een beleggingsfonds vir jou beleggingsbehoeftes wil gebruik, sou ek voorstel dat jy eerder die veiliger roete volg en gebruik maak van ‘n Multibateklasfonds by een of ander batebestuurder, in plaas van ‘n fonds wat slegs in ‘n enkele bateklas soos aandele of eiendom belê. Bly ook eerder weg van sektorspesifieke beleggingsfondse soos ‘n hulpbronnefonds of ‘n finansiële fonds.

Dié is hoogs gespesialiseerde beleggingsfondse en indien jy nie finansiële markte verstaan nie, gaan jy jou vingers verbrand. Bateklasspesifieke of sektorspesifieke beleggingsfondse kan egter baie waarde toevoeg as deel van ‘n groter portefeulje wat uit ‘n aantal beleggingsfondse bestaan. As ‘n belegger in ‘n enkele beleggingsfonds belê, sal ‘n Multibateklasfonds vir jou blootstelling gee aan alle bateklasse (aandele, eiendom, effekte en kontant) op die plaaslike en buitelandse mark.

Verder sal jy die beleggingsbesluite oorlaat aan die fondsbestuurder en hy sal besluit wanneer watter bateklas waarde bied of vermy moet word. Hy sal ook besluit watter sektore in die ekonomie waarde inhou en watter sektore eerder vermy moet word en die beleggingsfonds daarvolgens posisioneer.

* Terry is ‘n gesertifiseerde finansiële beplanner en beleggingsadviseur by Nassaux Blouster.