Moenie dit wil moeilik maak nie

0
108

Mense is bang om finansiële beplanning te doen. Nie omdat hulle bang is oor wat die resultate van die beplanning gaan aandui nie, maar eerder omdat dit as ‘n intimiderende, vreesaanjaende proses gesien word.

Met finansiële beplanning gaan jy dalk inligting rondom jou finansies (waarvan jou eggenote dalk nie eens weet nie) aan jou finansiële beplanner moet openbaar. Dit voel dus asof daar net te diep in jou privaatheid gekrap word.

Snaaks genoeg, is dit presies waar die sukses van finansiële beplanning lê. Openbaar alles, al is dit ongemaklik en maak seker jy beplan vir alle finansiële risiko’s. Die proses van finansiële beplanning is dan eintlik heel eenvoudig en jou finansiële beplanner behoort dit gemaklik en vinnig te kan afhandel.

Eerstens, soos genoem, gaan jy alles rondom jou finansiële posisie aan jou finansiële beplanner moet openbaar, insluitende sekere finansiële doelwitte wat jy wil stel. Jou finansiële beplanner sal ook weet watter vrae om te vra om te verseker dat hy of sy alles wat nodig is vir die beplanningsproses, uit jou uit kry.

Tweedens, sal jou finansiële beplanner deur al hierdie inligting wat jy verskaf het, werk. Tydens hierdie ontledingsproses sal jou finansiële beplanner die risiko’s waaraan jy blootgestel is, kan identifiseer. Verder sal hy of sy planne kan beraam oor hoe jy jou finansiële doelwitte sal kan bereik en hoe jy die finansiële risiko’s wat geïdentifiseer is, kan beperk of uitskakel.

Derdens, sal jy en jou finansiële beplanner weer bymekaar kom en die planne en oplossings bespreek. Alternatiewe kan ook oorweeg word. Uit dié gesprek behoort daar ‘n finansiële plan voort te spruit waarmee jy gemaklik is en wat jou sak sal pas. Jou finansiële beplanner sal dan die nodige implementering doen om jou plan in aksie te stel.
Jou finansiële plan, waarmee jy gemaklik is, moet dan op ‘n gereelde basis hersien word om te verseker dat dit steeds aan jou behoeftes voldoen. En dit is hoe eenvoudig dit kan wees. Moet dus nie bang wees vir finansiële beplanning nie en moenie dit wil moeilik maak nie.

Horace Terry
horace@nassaux.com