Moenie dat die Ontvanger jou geld bestee

0
522
Photo: Discover

Die 2019 belastingjaar is bykans op sy rug en tyd raak min vir jou om jou belastingsake in orde te kry. Om belasting te betaal is pynlik en ek is seker jy sal saamstem dat jy jou geld beter kan spandeer as wat die Ontvanger van Inkomste kan.

Indien jou belastingaanspreeklikheid jou in dié stadium depressief maak, het jy nog tot einde Februarie tyd om ‘n eenmalige betaling in jou uittree-annuïteit te maak en sodoende jou belastingrekening bietjie minder te maak en jou geld meer effektief aanwend as wat die Ontvanger kan. Huidige wetgewing laat jou toe om tot 27.5% van jou belasbare inkomste of vergoeding (watter een ook al die grootste is), tot aftreefondse by te dra en as ‘n belastingaftrekking te benut. Persone wat reeds bydraes maak tot ‘n uittree-annuïteit sal bewus wees van die paar rand se belasting wat die Ontvanger elke jaar aan hulle terugbetaal.

‘n Eenmalige paar rand in jou uittree-annuïteit kan vir jou onmiddellike belastingverligting gee, maar jy gaan ook aan die toekoms moet dink. Verhoog dus jou maandelikse premie vir maksimum effek en kry ook ‘n belastingvrye belegging of spaarplan in plek.

Sodoende sal jy nie net elke jaar op belasting kan spaar nie, maar ook jou belastingaanspreeklikheid vir die toekoms aanspreek (onthou, jy kan op jou oudag ‘n belastingvrye inkomste uit ‘n belastingvrye belegging of spaarplan trek, terwyl alle groei ook belastingvry is).

Goeie praktyk sal ook wees om die paar rand se belasting wat jy van die Ontvanger terugontvang, in jou uittree-annuïteit te stort. Op dié manier verminder jy jou belastingaanspreeklikheid verder en in effek subsidieer die Ontvanger deels die premies op jou uittree-annuïteit asook natuurlik ‘n finansieel meer gemaklike aftrede.

Tree dus voor einde Februarie op en betaal ‘n eenmalige bedrag in ‘n uittree-annuïteit. Verhoog dan verder jou uittree-annuïteit se premie en kry ‘n belastingvrye belegging in plek. Moet nie vir die Ontvanger een sent meer gee as wat hom toekom nie. Indien jy enige vrae het rakende dié twee produkte, kan jy gerus vir my ‘n e-pos stuur na horace@nassaux.com en ek verduidelik verder.

Horace Terry