Advokaat Jeremy Gauntlett, namens die universiteit, het aangevoer die UV het reeds in 2006, onder oud-rektor Professor Frederik Fourie, besef hul parallelmediumtaalbeleid lei tot segregasie en is onvolhoubaar. Die nuwe taalbeleid, met Engels as hoofvoertaal, is dus ‘n poging om meer ingeslotenheid te bevorder, en sal glo ook lei tot minder rassewrywing en geweld, soos wat onlangs op kampus gesien is.
Volgens AfriForum-woordvoerder, Alana Bailey, moet moedertaalonderrig egter, volgens die Grondwet, voorkeur oor dié faktore geniet, en meer, in plaas van minder tale moet voor voorsiening gemaak word.
“Afrikaanse onderrig is tans prakties uitvoerbaar aan Kovsies. Ons sien daar parrallelmediumonderrig. Niemand se regte word geskend as iemand wel Afrikaanse onderrig geniet nie. Inteendeel, dit bevoordeel meer mense se regte en dit gee die geleentheid dat ander tale kan ontwikkel en ook bygetrek word by die universiteit se taalbeleid.”