Modelvlieg, ‘n sport vir die manne

0
316

Die Central Radio Flyer (CRF)-klub is vir heelparty inwoners van die Rosestad iets onbekends, maar definitief ‘n plek wat die moeite werd is om te besoek. Dié klub is naby die asgate op pad na die UV Suid-kampus (die ou Vista) geleë en die ‘speelplek’ van manne met belangstelling in afstandbeheerde vliegtuie, helikopters en hommeltuie. ‘n Tweede klub is in Langenhovenpark geleë.

Van die modelvliegtuie, “fixed wing”-modelle, soos hulle dit noem, het ‘n vlerkspan van meer as twee meter. Dis inderdaad groot modelle, met pryse wat in sommige gevalle meer as R50 000 beloop. Een van die jongste vlieëniers is die 6-jarige Owen, seun van een van die lede, Charl Langerman. Die CRF spog met ‘n behoorlik geteerde aanloopbaan– die enigste van sy soort in Bloemfontein.

Om ‘n modelvliegtuig of -helikopter te vlieg, kos baie ure van oefen, veral as dit by die beheer van ‘n heli kom, wat uiters kompleks is. Fanie Reeder, een van die klub se oudste lede, sê sy modelheli-ondervinding het hom in staat gestel om met redelike selfvertroue ‘n regte helikopter vir ‘n kort tydperk te vlieg.

Die grootste impak wat die wêreld van afstandbeheerde modelle die laaste paar jaar beleef het, is die ontstaan en groei van hommeltuie. “Dit het ons regtig seergemaak,” sê klublid Jaco Harms wat in die resieshommeltuie spesialiseer. Hy praat natuurlik hier oor die verkope van modelhelikopter en -vliegtuie. “Meeste van die ouens vlieg gewoonlik meer as net een tipe model.”

Hommeltuie hou vir baie vlugliefhebbers ‘n spesiale fassinasie in, veral die een van Dries Kruger wat toegerus is met sy HD-kamera wat hoëresolusiefilm en –foto’s van ‘n hoogte van 120 meter kan neem. Die 120 meter-hoogtegrens is daar gestel deur die wet sodat dié modelle nie met regte vliegtuie se lugruimte inmeng nie. Dan is daar ook hommeltuie wat “racing drones” genoem word en waarvoor die vlieënier spesiale koptoerusting moet dra om die kamera se oogpunt waar te neem en die tuig te beheer. ‘n Besoeker kan dieselfde toerusting dra en presies waarneem wat die vlieënier sien.

Belangstellendes kan gerus ‘n draai kom maak, en vir diegene wat deur die gogga gebyt word… modelle begin by so min as
R3 000 elk.

Vernor Baumann

info@bloemofnteincourant.co.za