Modekenner sterf aan hart

0
871
Danial Smith (53)

Die man wat elke vrou soos ‘n prinses laat voel het. Dit is hoe professionele ontwerper en binnenshuise versierder, Danial Smith (53), deur baie mense onthou sal word. Smith, ook bekend vir sy liefdadigheidswerk onder die Bloemfonteinse gemeenskap, se skielike dood Dinsdag het skokgolwe regdeur die stad gestuur.

‘n Paar van Smith se laaste ontwerperskledingstukke is onlangs in Las Vegas vertoon. Hy het gereeld aandrokke vir spesiale geleenthede geskenk en matriekafskeidrokke aan minderbevoorregte meisies beskikbaar gestel vir hul groot aand. Hy het ook verskeie dansskole se klere ontwerp, insluitend dié van Martie Victor.

Attie van Rensburg, sy kleinneef, het gister aan Bloemfontein Courant gesê Smith het altyd ander mense eerste gestel, partykeer ten koste van homself.
“Die manier hoe hy ligter oomblikke kon skep sal ek altyd onthou, hy kon enige situasie ligter maak en was nooit regtig te ernstig nie. Hy het nooit nee gesê vir enige iets nie, en was altyd entoesiasties en opgewek – dit was aansteeklik. Hy was ‘n vegter teen dit wat verkeerd was, veral as dit kom by diere, en spesifiek honde.

“Hy was altyd reg vir ‘n grappie. Hy was almal se vriend. Hy het sy brood verdien deur mense se lewens met sy skeppings te verryk. Nagte deur het hy self elke kraletjie of steentjie aan sy rokke vasgewerk. Sy dood laat ‘n leemte in Bloemfontein, die ontwerperswêreld en in ons familie,” het Van Rensburg gesê.
‘n Jarelange vriendin, Gazelle Pienaar, het aan Bloemfontein Courant gesê dat Smith altyd haar beste vriend sal wees en dat hulle sedert 2007 saam deur dik en dun is. “Sy werk was sy trots; sy handtekening was oral sigbaar op al sy uitrustings,” vertel Pienaar. “Ek is nie die enigste persoon wat hom ongelooflik baie gaan mis nie. Hy sal vir altyd in ons harte bly. Om my en Danial se vriendskap te beskryf, is baie moeilik, want hy was alles wat enige mens in ‘n vriend wou hê. Hy was baie lojaal en sou uit sy pad gaan om jou te help met wat ook al jou probleem was.”

Danial Smith (53) en Gazelle Pienaar

Huldeblyke aan Smith stroom sedertdien in op verskillende sosialemedia-platforms van verskillende mode-ghoeroes, mode- en modelskole, familie en vriende. Radio-aanbieder en motiveringspreker, Jeannette Geldenhuys-Smit, het gesê dat Smith haar eerste keuse was vir uitrustings en alles wat sy nodig gehad het, omdat hy elke vrou soos ‘n prinses laat voel het.

Danial Smith en Jeannette Geldenhuys-Smit

“Ek dink hy was die mees onderskatte ontwerper wat ek nog ontmoet het en ek dink nie hy het ooit die plek in die ontwerpersgemeenskap gekry wat hy regtig verdien het nie, en tog was almal so lief vir hom.”
Volgens Pienaar was Smith die afgelope maand baie siek en heeltyd in en uit die hospitaal. Dinsdag het hy gesterf weens hartkomplikasies by sy pa se huis waar hy besig was om aan te sterk.

Smith se troosdiens vind plaas op Vrydag 19 Julie 2019 om 14:00 uit die NG Kerk Gardeniapark, Bloemfontein.

Pierce van Heerden
pierce@mahareng.co.za