Mode-fiesta: VS en NK blom behoorlik

0
106
Die Suid-Afrikaanse Blomme-unie (Safu) het verlede naweek sy mode-fiesta in Pretoria gehou. Die Oranje Blomme-unie (OBU) se blommerok het tweede gekom in die kompetisie. Van links is Amelia Loubser, Schalk van Dyk en Jaco Niemann van die OBU, met Linoré Fouchee, wat die OBU se blommerok op die mode-fiesta vertoon het.

‘n Vrystaatse en Noord-Kaapse blommerok wat nege ure geneem het om te voltooi en uit tientalle verskillende blomsoorte gemaak is, het die land gaande gehad op die Suid-Afrikaanse Blomme-unie (Safu) se mode-fiesta wat die afgelope naweek in Pretoria plaasgevind het.
Op dié geleentheid, waarmee Safu die lente op behoorlike wyse ingelui het, het die verskillende provinsies byeengekom om hul blommekuns, innovering en skeppende vermoë aan die publiek te vertoon.
Die Oranje Blomme-unie (OBU), wat die Vrystaat en Noord-Kaap-takke verteenwoordig, se inskrywing het die beoordelaars so beïndruk dat ‘n tweede plek daaraan toegeken is tydens ‘n geleentheid waar die mededinging straf was. Limpopo het met die louere weggestap.
Die OBU se ontwerp is getiteld Fantasia, wat boekdele gespreek het van die oorvloed pragtige blomme en hope verbeelding waarvoor die Vrystaters en Noord-Kapenaars bekend is.
Die president van die OBU, Schalk van Dyk, het verduidelik dat die blomme-rok wat hy, Jaco Niemann, jongste lid van die OBU, en Amelia Loubser, voorsitter van die Bloemfontein Blommekunsvereniging, gemaak het, hulle byna nege uur geneem het. Hy vertel dat hulle besluit het om vars materiaal vir hul ontwerp te gebruik en ‘n kombinasie van blomme soos aspidistra-blare, anthuriums, wilde iris, angeliere, Dendrobium- en Phaleanopsis-orgidieë, madeliefies en tjienkerientjees saamgevoeg het om die besonderse rok te maak. “Ons rok was ‘n blomme-fantasie en dit is dan ook die rede waarom ons dit Fantasia genoem het.”

Die model, Linoré Fouchee van Bloemfontein, wat die pragtige blommerok gedra het by die Suid-Afrikaanse blomme-unie (Safu) se mode-fiesta wat verlede naweek in Pretoria plaasgevind het.

Die model wat die pragtige rok gedra het, is Linoré Fouchee van Bloemfontein, wat volgens Van Dyk die rok met groot gemak vertoon het. Sy het oor die verhoog gestap met die bypassende kopversiering van blomme wat deur Fred du Preez ontwerp is, op maat van een van Rocco de Villiers, vermaakkunstenaar vir die aand, se spesiaal uitgesoekte klavierstukke wat by die tema van die rok gepas het.
Van Dyk het verder verduidelik dat die OBU se doel is om blommekuns in Suid-Afrika te bevorder. Volgens hom bied hulle verskeie werksessies en ander programme aan en enige persoon met ‘n belangstelling in die kuns van blommerangskikking is welkom om dit by te woon. Hulle hou op 17 Oktober om 14:00 ‘n demonstrasie in Onze Rust se kerksaal. Belangstellendes kan hom kontak by 083-773-8373. – SAZLY HARTZENBERG sazly@centralmediagroup.co.za