Modder spat in Spirit of Africa se uitdunne

0
7645
Die geborgde Nissan Navara wat deur Spirit of Africa gebruik is vir die 2023 weergawe van die tydren-kompetisie. FOTO: Facebook

Die legendariese Suid-Afrikaanse tydren-en resieskampioen, Sarel van der Merwe, het verlede week op die plaas Doringbos, buite Bloemfontein, die uitdunne vir die 19de Spirit of Africa Trofee klaargemaak.

Die top 20 spanne is gefinaliseer en die finaal word vir 13 tot 16 Julie 2023 by die Amanzi Privaat Wildreservaat naby Brandfort beplan. Vanjaar het 274 spanne van twee elk deelgeneem en net die beste het hul plek in die finaal bespreek – dit nadat elkeen die kans gehad het om met die nuwe Nissan Navara 2.5 DDTi PRO-4X 4X4 Double Cab ’n draai om die baan te gooi. Die baan is deur Van der Merwe ontwerp en meet spoed en tegniek.

Danielle van der Merwe, van Spirit of Africa, het verduidelik hoe die puntestelsel werk; “deelnemers begin elke oefening met 100 punte en verloor punte as hul pale slaan, agteruitgaan op ’n tegniese oefening, of laat of selfs vroeg verby die einde van die oefening aankom”.

Net die mees tegniese bestuurders het dus in die top 20 geëindig ná sewe weke van uitdunne. Die kompetisie is nomadies, maar is al vir 19 jaar aan die gang, “ons het die kompetisie verlede jaar en vanjaar op Doringbos gehou,” het Danielle vertel. “Ons sal volgende jaar die uitdunne op ’n ander plek hou, die deelnemers kom jaar ná jaar terug en wil nie elke keer by dieselfde plek ry nie,” het sy gesê. Nissan het vanjaar vir die eerste keer die kompetisie geborg nadat Sarel van der Merwe voorheen met Nissan gewerk het.

“Nadat ek in die laat sestigs vir die maatskappy gewerk het, voel dit of ek na my wortels terugkeer. Die eerste tydrenoorwinning van my loopbaan en my eerste kampioenskap is in ‘n Nissan gewen. Dit is wonderlik om terug te wees by die Nissan-familie,” het hy erken.

Warren Hawkins
warren@mahareng.co.za