Mnr. en Mej. Kampus wil leiers kweek

0
503
Stefan Lotter en Mienke van Rooyen

Dis weer tyd vir die gewilde Mnr. en Mej. Kampus-kompetisie, ‘n konsep wat verlede jaar deur twee bekendes op die plaaslike skoonheidstoneel, Mienke van Rooyen en Stefan Lotter, op die been gebring is. Pieter Delport het in ‘n vraag-en-antwoordsessie met die twee interessante feite oor die kompetisie opgediep.

Courant: Dis ‘n nuwe konsep. Is julle tevrede met hoe die eerste een verlede jaar afgeloop het?

Mienke: Ons is baie tevrede met ons eerste jaar. Ons voel dat ons ‘n baie goeie fondasie gelê het en dat ons van hier af net gaan bou. Ons het baie lesse geleer en beleef reeds baie groei in ons platform vandat die inskrywings oopgemaak het. Ons wil dié jaar baie meer fokus op die “journey”. Ons wil seker maak dat al wen jy nie, jy nog steeds ‘n veranderde persoon sal wegstap, bemagtig om die wêreld te verander.

Courant: Watter kenmerke soek julle in die wenners van dié kompetitisie?

Stefan:Mnr. en Mej. Kampus is leiers, hulle is ambisieus, met baie “savvy”, gereed om verantwoordelikheid te neem terwyl hulle gefokus bly op die veranderende wêreld om hulle. Mnr. en Mej. Kampus gaan jong studente bymekaarbring om hul land te verteenwoordig en hul kultuur te deel met die res van die wêreld, die mag van Suid-Afrikaanse studente te vier en eenheid aan te wakker.

Courant: Wat wil julle met die konsep bereik?

Mienke: Ons hoofdoel sal altyd wees om leierseienskappe by ons deelnemers te kweek. Ons sien ons platform veel eerder as ‘n leierskapsprogram as wat dit ‘n “pageant” is. Ons wil hê studente moet ons platform gebruik om ‘n stem te wees vir hul eweknieë en uitgesproke te wees oor aangeleenthede wat kommer wek.

Courant: Wie was verlede jaar se wenners en dink julle die twee is waardige ambassadeurs vir die kompetisie en die UV?

Stefan: Ons 2018-wenners is waardige “brand”-ambassadeurs wat gehelp het om ons handelsmerk na nuwe hoogtes te neem. Nongee Kandjii en Lethloghonolo Boikanyo studeer albei BCom LLB en is tans in hul finale studiejaar. Hulle is albei welbekend in die leierskapsfeer op kampus aangesien Nongee primaria van die bekende koshuis, Soetdoring, was en Lethlogonolo visepresident van die Studenteraad (SRC).

Courant: Eenheid onder studente was ‘n groot vraagstuk verlede jaar. Hoe gaan julle seker maak dat vanjaar se deelnemers hierdie droom help bereik?

Mieke: Ons het vinnig geleer dat ons nie enige politiek met ons platform wil meng nie, en roem op die goeie verhoudings wat ons finaliste met mekaar het. Daar is werklik ‘n familiegevoel onder 2018 se finaliste en ons wil aanhou om vriendskappe en verhoudings in 2019 te bou.

Courant: Kan studente nog inskryf en wanneer sluit dit?

Mieke: Die inskrywings is steeds oop tot op 1 Maart. Studente kan op ons Facebookblad (Mr and Ms Campus UFS) die skakel kry vir die aanlyninskrywing asook die instruksies vir die amptelike inskrywingsvorm. Ons wenners word die jaar op 27 Julie weer in die Kopanong Ouditorium (Kovsie Kerk) aangekondig.