Vroeër hierdie week het die Uitvoerende Burgemeester van die Mangaung Metro Munisipaliteit (MMM), Gregory Nthatisi, ’n nuwe vloot voertuie onthul.
“Terwyl hierdie nuwe vloot ’n stap in die regte rigting is, het ons nog ’n lang pad om te gaan voordat daar aan die vereiste vloot voldoen word om te verseker dat daar geen diensleweringsuitdagings in die stad is nie,” het Nthatisi gesê.

Hy het verduidelik dat R55 miljoen uit die Stedelike Nedersettingsontwikkelingstoelae gebruik is om die voertuie aan te koop, dit is nadat die stad die Nasionale Tesourie betrek het en hulle die groen lig gegee het om die aankope te doen.
Altesaam 31 voertuie is onthul: 8 3-ton-valkantvragmotors, 8 vullisverdigtingsvragmotors en 15 vragafleweringsvoertuie.
Vanaf Dinsdag 14 Mei 2024 is die nuwe vloot reeds in die stad uitgestuur om te verseker dat die agterstand in dienslewering onmiddellik aangespreek word.
Volgens MMM se stadsbestuurder, Sello More, staan die gebrek aan voertuie sentraal in die ineenstorting van dienslewering. “Ons het ’n vloot voertuie nodig om die primêre funksie van die stad uit te voer, naamlik dienslewering. Om afval te versamel, waterlekkasies te herstel en rioolstortings te hanteer, moet ons ’n voldoende vloot hê.”

van die Mangaung Metro
Munisipaliteit, Gregory Nthatisi, en
stadsbestuurder, Sello More.
FOTO: JUSTINE FORTUIN
Hy het bygevoeg dat dit die tweede vloot is wat MMM ontvang.
In November 2023 het die stad agt voertuie van die Departement van Omgewingsake ontvang. Die burgemeester het beklemtoon dat streng maatreëls ingestel sal word om te verseker dat die voertuie nie misbruik word nie en uitsluitlik gebruik sal word om die inwoners van Mangaung te bedien.
Hy het verder gesê dat maatreëls ingestel is en ’n gemeenskapsblitslyn beskikbaar gestel sal word om die misbruik van die vloot aan te meld.
Justine Fortuin