Miss Teen Hope woeker met talente

0
190
Alecia Marais vlieg eersdags Kaapstad toe vir die Miss Hope-kompetisie.

Alecia Marais, Miss Teen Hope Free State Central, is bewys daarvan dat skoonheid nie net oor die uiterlike gaan nie, maar ook oor die innerlike. Sy neem van 11 tot 16 Desember aan ‘n internasionale kompetisie, Miss Hope, deel.
“Die kompetisie is glad nie op skoonheid nie gebaseer nie, maar gaan oor die liefdadigheidswerk wat jy doen en hoeveel jy vir jou gemeenskap beteken,” vertel Marais.
Marais, wat vanjaar aan die Hoërskool Jim Fouché matriek geskryf het, sê dat sy baie opgewonde is oor die kompetisie. “Daar is klomp deelnemers van ander oorsese lande en die kroning gaan by die V&A Waterfront in Kaapstad plaasvind,” sê sy.
Gepaard gaande met so ‘n kompetisie, is die koste daaraan verbonde. Marais, wat ook die gesig van Solidariteit Helpende Hand se Bloemfontein-Suid-tak is, het R10 000 van dié tak ontvang om haar te help met haar uitgawes soos vlieg- en verblyfkoste.
“Die geld het nie net na my toe gekom nie. Vir elke 20 lede wat ‘n persoon werf om by Solidarietit betrokke te raak, ontvang die persoon R10 000,” verduidelik sy.
Marais doen baie vir haar gemeenskap. Sy gesels graag oor haar liefde vir klein kindertjies, maar sê dat selfs oumense haar na aan die hart lê. Sy het al by verskillende huise wat vir kinders en oumense sorg, liefdadigheidswerk gedoen en kinderklere, kos, skoolbehoeftes en babaprodukte vir hulle ingesamel. Sy vertel ook van sop en sjerrie-aande wat gereeld by die Athalia-huise plaasgevind vir fondsinsamelings.
Haar groot liefde vir kinders het haar laat besluit om spelterapeut te word. “Ek wil al my liefde en aandag teruggee aan die gemeenskap en wys dat ek omgee.” – JERETHA OOSTHUZIEN
jeretha@mahareng.co.za