Misdaad neem toe in Langenhovenpark

0
4027

Die misdaadsyfer in Langenhovenpark, wat voorheen as een van die veiligste woonbuurte in die Rosestad beskou is, is besig om met rasse skrede toe te neem. Rowers het onlangs op ‘n Spar-winkel toegeslaan en in ‘n ander voorval het huisroof plaasgevind waar die inbrekers sleg daarvan afgekom het.

Die Gemeenskapspolisiëringforum (GPF), AfriForum, verskeie sekuriteitsmaatskappye sowel as die Suid- Afrikaanse Polisie Diens (SAPD) van Bainsvlei is egter nie bereid om die situasie gelate te aanvaar nie en staan gereed om die boewe in Langenhovepark die stryd aan te sê.

Bloemfontein Courant het ondersoek ingestel na die toename in misdaad deur met die GPF en AfriForum te gesels oor moontlike redes waarom dit gebeur.

JP Pretorius, voorsitter van AfriForum se Buurtwagtak in LHP

Volgens JP Pretorius, voorsitter van die AfriForum Buurtwag se tak in LHP, neem misdaad oral toe en gebeur dit nie net in LHP nie. Daar is verskeie redes hiervoor. Dit is klein goedjies wat die skelms trek, sê hy. “Die inwoners is baie nalatig as dit by veiligheid kom. Daar word hekke oopgelos en baie keer is inwoners nie bewus van wat werklik om hulle aangaan nie.”

Joseph Renaud, die streekskoördineerder van AfriForum is van mening dat bosslapers dikwels dag en nag die woonbuurt dophou en dan toeslaan. Die feit dat die woonbuurt langs die N1 geleë is, maak dit ook maklik vir misdadigers om weg te kom.

“Ons het baie te doen met petty crimes. Dit is meer opportunistiese misdade as wat dit georganiserde misdade is. Die misdadigers werk gewoonlik in groepe van drie tot vier mense, maar as dit gaan om net vinnig iets te steel, is dit gewoonlik net een persoon,” verduidelik Renaud.

Joseph Renaud, streekskoördineerder van
AfriForum

Volgens statistieke wat die GPF opgetrek het vir Augustus 2018 vind 66% van die misdade bedags plaas, klaarblyklik omdat daar dan nie mense by die huis is nie en dit makliker is om ‘n misdaad te pleeg en suksesvol weg te kom. Slegs 34% van die misdade vind snags plaas. Statistieke wys ook daarop dat misdade van Woensdag tot Saterdag die meeste voorkom, met 28% wat op Vrydae plaasvind. Sondae tot Dinsdae is dit redelik stil in die woonbuurt.

Van die voorstelle wat deur Pretorius en Renaud gemaak is, is om meer sigbaar te wees. “Wees bewus van wat om jou aangaan. Wees meer proaktief en raak betrokke. Die meerderheid van inbrake en misdade vind by meenthuiskomplekse plaas. Ons stel voor dat elke meenthuiskompleks ‘n WhatsApp-groep begin waarin lede kan kommunikeer en te alle tye bewus kan wees van wat aangaan.”

“Die AfriForum Buurtwag, sekuriteitsmaatskappye en die polisie het regtig ‘n goeie kommunikasiestelsel en dit wil ná ‘n maand voorkom dat dit reeds werk,” sê Renaud.
Natuurlik is dit ook ‘n pluspunt om te weet hulle kan op die gemeenskap steun vir hulp. “Enige iemand kan by ons aansluit en ‘n lid word. Dit sal dan nog ‘n paar ore en oë wees om die area te beveilg.”

Feite oor misdaad van Augustus 2017 tot Augustus 2018:
• Huisbrake het met 150% gestyg.
• Diefstal het met 60% gedaal.
• Diefstal uit motorvoertuie het met 133% gestyg.
• Diefstal van motorvoertuie het met 100% gedaal.
• Ernstige aanranding het met 200% gestyg.

-Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za