Misdaad neem meeste af in VS

0
850
MEC for Police, Roads and Transport,Sam Mashinini FOTO: MARK STEENBOK

“Kriminele moet twee keer dink voordat hulle hulself tuismaak in die Vrysaat.”
Dit was dié week die boodskap van die LUR vir Polisie, Paaie en Vervoer, Sam Mashinini, wat die media tydens ‘n nuukonferensie in Bloemfontein toegespreek waar die 2016/17 provinsiale misdaadstatistieke bekend gemaak is.
Hy sê die polisie moet nie op hul louere rus vanweë die feit dat statistieke toon dat misdaad met 5.2% in die provinsie afgeneem het nie. Dit is die grootste afname in die land.
Statistiek toon dat kontakmisdade wat moord (950), poging tot moord (694), seksuele oortredings (3488) en aanranding met die doel om ernstig te beseer (11 702) insluit, met 8.2% gedaal het.
Dit terwyl kontakverwante misdade, wat kwaadwillige skade aan eiendom en brandstigting insluit, met 12.5% afgeneem het. Eiendomsverwante misdade het ook met 2.9% gedaal.
Mashinini sê egter dat die stryd teen misdaad nog lank nie gewen is nie.
“Ons toon ‘n daling in ons misdaadstatistieke, dit sê egter nie ons moet stilbly en niks doen nie. Wanneer jy met gemeenskappe gesels, praat hulle nie oor die statistieke nie, maar wel oor die kwessies wat hulle in die gesig staar. Ons moet meer doen, want een insident is een te veel,” sê Mashinini.
Stastiktieke toon verder dat die ontwettige besit van vuurwapens (12.4%), dwelmverwante misdade (17.6%), bestuur onder die invloed van drank of dwelms (15.5%) en seksuele oortredings (37.8%) afgeneem het.
Die aantal rooftogte, by beide residensiële (13.2%) en nie-residensiële plekke (28.7%) het toegeneem. Motordiefstal (6.1%) en kommersiële misdade (13.2%) het ook gestyg.
Ernstiger misdade soos die ontwettige besit van vuurwapens en ammunissie en dwelm verwante misdade het met 12.9% in die Manguang-gebied toegeneem.
Instussen sê die Vrystaatse polisiekommissaris, Lebeoana Tsumane, dat daar nie onderskeid tussen moordsake in die provinsie getref sal word nie. Sy kommentaar kom ná hierdie week se “Swart Maandag”-betogings ter bewusmaking van plaasmoorde wat regoor die land plaasgevind het.
Organiseerders van Maandag se betogings in Bloemfontein, het onder meer ‘n versoekskrif aan die Vrystaatse polisiebestuur oorhandig waarin hulle vra dat die regering en polisie plaasmoorde en -aanvalle as ‘n prioriteit sal beskou.
Tsumane sê egter dat die polisie elke moordsaak dieselfde hanteer en nie onderskeid tref van waar dit plaasvind nie. “Moord is moord, en ons sal elke moordsaak op dieselfde manier hanteer en ondersoek, of dit nou in ‘n landelike gebied, op ‘n kleinhoewe, plaas, of in die selle plaasvind,” sê Tsumane.

Mark Steenbok
mark@centralmediagroup.co.za