Minister beïndruk met Bloemfonteiners se ‘groen huis’

0
Minister beïndruk met Bloemfonteiners se ‘groen huis’

Maricelle Botha

Nadat hy in 2010 vir ’n paar maande in die Makoto-informele nedersetting ingetrek het om die nood van mense wat in plakkershutte woon te beklemtoon, het Thabo Olivier besef dat ’n regeringshuis nie noodwendig honger, werkloosheid of armoede verlig nie.
In ’n poging om hierdie probleem op te los, is die Qala Tala-projek (om groen te begin) gestig in samewerking met Anita Venter,’n navorser aan die UV se Sentrum vir Ontwikkelingsondersteuning. Dié projek wat reeds landwyd aandag getrek het, is verlede week ook deur Lechesa Tsenoli, die adjunkminister van landelike ontwikkeling en grondhervorming besoek.

“Ek het ná my tyd in Makoto, begin speel met die idee van ’n HOP-huis waaruit ’n mens ook ’n bestaan kon voer. Jy moet verstaan dat daar baie mense is wat nie vir ’n HOP-huis kwalifiseer nie, maar ook nie kwalifiseer vir ’n verband nie,” vertel Olivier ernstig. Hy het met ou buitebande begin eksperimenteer en ’n metode gevind om ’n volledige huis daarmee te bou. Die huis word op dieselfde beginsel as ’n eertydse Hartbeeshuis of Basotho-hut gebou en die buitebande sal dus met die voltooiing van die huis, glad nie sigbaar wees nie. “Ons maak ook gebruik van son- en windkrag, ons wil ook eksperimenteer met biogas en ek is tans besig om ’n toilet te ontwikkel wat slegs 500ml water nodig het om te spoel,” sê Olivier.
Hy het ook ’n tuin ontwikkel wat slegs 120m² beslaan, en dan verder in die lug geplant word. “Ek boer effektief op 360m², want ek het ’n lugtuin,” vertel Olivier.

Volgens hom kan mens groente soos pampoen, skorsies en vlapampoentjies sowat twee meter in die lug op stellasies plant. Onder dit word dan ’n hangtuin geskep waar enige ou bottels of houers as blombakke gebruik word wat onder die bo-tuin hang. Onder die hangtuin word ou buitebande en boublokke weer aangewend vir ’n grondtuin.
“Dit is belangrik om te onthou dat water-besparing die hoofdoel van hierdie tuin is. Daarom maak jy die tuin van bo nat en alle oortollige water loop deur tot in die grondtuin,” vertel Olivier. En wat dink die minster daarvan? “Hy is baie positief en was veral beïndruk met die groentetuin,” voeg Olivier trots by. Olivier hoop om die projek teen die einde van vandeesmaand in só ’n mate te voltooi dat hy en sy vrou vanaf Februarie in die Qala Tala-huis kan woon en dit sodoende verder ontwikkel. Sodra die prototipe vervolmaak is, sal enige belangstellendes geleer word om self só ’n huisie te bou.

No posts to display