MiniQuiz goeie toets vir leerlinge se kennis

0
704

MARK STEENBOK

Leerlinge van Hoërskool Sentraal se kennis en intellek is onlangs behoorlik getoets by ‘n MiniQuiz-kompetisie wat op 14 Mei by die Vrystaat Universiteit plaasgevind het.

Tien Vrystaat-skole het deelgeneem aan die departement van geologie se MiniQuiz op die Vrystaat Universiteit se kampus. Die vasvra het bestaan uit ‘n geskrewe en mondelinge afdeling om leerlinge se fisiese wetenskap- en wiskundekennis op die proef te stel.

Die 10 skole is in onderskeidelik ‘n platinum- en goud-afdeling ingedeel.
Sentraal het saam met Grey-kollege, St Andrew, Jim Fouché en Eunice in die platinum-afdeling deelgeneem.
Die Traliespan se kennis is deeglik getoets. In die platinum- geskrewe afdeling het Adriaan Lazenby en Daniel van Niekerk in die top-tien geëindig. Dis egter in die mondelinge kompetisie waar die Traliespan behoorlik hul stem dikgemaak het. Anke Archer, Adriaan Lazenby en Daniel van Niekerk het tweede geëindig, slegs een punt agter, Grey-kollege, wat met die louere weggeloop het.

Eunice, Jim Fouché en St Andrew het reeds vroëer uitgeval. Jim Fouche het in derde plek geëinding.
Die leerlinge het elkeen balkies en sertifikate ontvang en ook ‘n kontantbedrag wat vir fisiese wetenskap by die skool aangewend gaan word.

mark@centralmediagroup.co.za