Mini-duik-a-thon word in Bfn gehou

0
584
Van links is, agter: Eugene Norval en Richard Ashman (albei direkteure van die nie-winsgewende organisasie); voor: Arne Gouws en Melissa Leonard (direkteur van die nie-winsgewende organisasie).

Die Skubavereniging vir Gestremdes Suid-Afrika, ‘n nie-winsgewende organisasie wat daarin spesialiseer om gestremdes die geleentheid te gee om te duik, bied op 13 April die eerste mini-duik-a-thon in Bloemfontein aan by die duikskool, Prosport Divers.

Een van die direkteure van die nie-winsgewende organisasie, Melissa Leonard, vertel een van die instrukteurs het Bloemfontein besoek en gehelp om gestremde mense te wys hoe om te skubaduik. Die idee van’n mini-duik-a-thon in Bloemfontein is daar gebore. Volgens haar was dit ‘n onverwagse besoek en die reaksie wat hierop gevolg het, was oorweldigend positief.

Leonard sê dat die organisasie nou op soek is na ervare sowel as onervare duikers regoor die Vrystaat wat graag by die organsasie wil aansluit.

Een van die duikers, Flippie Korff, saam met sy duikinstrukteur, Jay Peerce.

“Ons wil ook aan gestremdes die geleentheid bied om vir die eerste keer met duiktoerusting in die water in te gaan. Skubaduik het ‘n groot rehabilitasie-effek op mense met gestremdhede, aangesien dit hul selfvertroue en menswaardigheid herstel en aan hulle ‘n nuwe perspektief op die lewe gee.” Leonard verduidelik dat skubaduik ‘n nuwe wêreld oopmaak vir gestremdes wat gedink het hul lewe is verby. Nadat hulle opgelei is, begin hulle meer avontuurlik lewe en geniet hulle die lewe ten volle.

“Die Skubavereniging vir Gestremdes SA is toegewy daartoe om die fisieke en sosiale welsyn van mense met gestremdhede te verander en te verbeter deur skubaduik. Ons wil verseker dat die gestremdes wat ons oplei dieselfde geleentheid kry om kwaliteit-opleiding, sertifisering en duikavonture te ontvang – net soos die nie gestremdes duikers.”

Die geleentheid is oop vir die publiek en gesinne. As daar mense is wat dit nie kan bywoon nie, kan hulle duikslotte van R350 borg en dan sal iemand namens die persoon duik.
Leonard sê enige donasie sal hoog op prys gestel word, enigiemand wat graag ‘n donasie wil maak, kan Melissa kontak by 071-138-3906 of ‘n e-pos stuur na melissa@hsasa.org.za. – Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co