Mariné Jacobs
Daar word elke jaar minder huwelike geregistreer ondanks ’n bevolking wat aanhou groei. Dít het aan die lig gekom in ’n onlangse studie deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRR). Hierdie studie toon terwyl die land se bevolking tussen 2003 en 2010 met 12% toegeneem het, het die getal geregistreerde huwelike met 8% verminder. Terwyl verskeie redes vir hierdie verskynsel bestaan, is die wetlike implikasies van ’n geregistreerde huwelik, en verskeie wanpersepsies daar rondom, waarskynlik een van die groot redes hoekom al minder paartjies die paadjie na die kansel aandurf. Courant het gaan ondersoek instel:
Die studie van die SAIRR het getoon dat gewoontereg huwelike met 42% afgeneem het, terwyl burgerlike huwelike met 4% verminder het. Dit blyk wanpersepsies oor die regte van individue in ’n saamwoonverhouding moontlik ’n groot rol hierin kan speel.
’n Vrou van Bloemfontein, wat anoniem met Courant gesels het, vertel dat sy en haar maat reeds 12 jaar lank saam woon en twee kinders het. Hulle is egter nie van plan om ooit te trou nie. “Ons is basies nie getroud nie omdat ons in die eerste plek nooit so ver gekom het nie. Ons lewens het net aangegaan, en tweedens kom ons altwee uit vorige huwelikke. So ons was altwee bietjie bang om weer daardie stap te vat. En dan die ander ding is, ons sien onsself bietjie anders as society. Daar is soveel druk op jongmense om net getroud te kom en kinders te hê en ons voel ons hoef ons nie aan daardie druk te steur nie,” sê sy.
’n Advokaat van Bloemfontein, Pieter Nel, verduidelik dat daar eintlik baie min wetlike beskerming in saamwoonverhoudings bestaan. Hoewel sommige onder die indruk is dat ’n tipe huishoudelike vennootskap-wetgewing in werking tree ná ’n sekere tydperk van saambly, is dit nie die geval nie. “Daar is nie veel beskerming in saamwoonverhoudings nie,” verduidelik Nel. “Die algemene beginsel is daar is geen formele regsproses nie – die een party het geen voordele of aanspraak op die ander party se boedel nie. Die enigste uitsondering is ten opsigte van pensioen waar die man of die vrou as afhanklike ten opsigte van die ander se pensioen beskou word. Daar is geen onderhoudsverpligting teenoor mekaar nie, dus is daar geen onderhoudseis nie.”
Nel sê egter daar is wel sake in die geskiedenis waar een individu die ander party suksesvol gedagvaar het nadat hulle jare saamgebly het. Hy verwys na ’n saak wat in 2012 in die Appèlhof beslis is waar 50% van ’n man se boedel aan sy voormalige saamwoonmaat toegestaan het, nadat sy hom op grond van ’n “universele vennootskap” gedagvaar het. Wanneer dit by kinders kom, is die moeder die enigste voog van ’n kind wat buite die huwelik gebore word en het die pa geen regte ten opsigte van die kind nie, sê Nel. Nuwe wetgewing maak egter daarvoor voorsiening dat die pa wel aansoek na ’n hoër hof kan rig wat regte tot die kind kan toestaan.
Volgens Nel is daar beslis voordele daaraan om wettig getroud te wees, aangesien daar min beskerming in ’n saamblyverhouding is. Vir paartjies wat egter verkies om hulself nie in die eg te verbind nie, het Nel ook raad. “In só ’n geval sal die enigste standhoudende antwoord wees om ’n vennootskapkontrak op te stel wat dan beskou word as die gedeelde bymekaarmaak van bates en die saamwoon is dan ’n universele vennootskap.”