Mimosa Gardens, ‘n nuwe park en mark vir Bloemfontein

0
885

Pareto Limited, die eienaars van Mimosa Mall, Brandwag-sentrum en die Kosmos-woonstelle in Brandwag, het groot planne vir die Rosestad. Dit nadat hulle aangekondig het dat die Kosmos-woonstelle aan die westekant van die Brandwag-sentrum, wat sedert Januarie leeg staan, gesloop gaan word om plek te maak vir iets meer opwindends. Die ontwikkeling, wat The Mimosa Gardens genoem gaan word, gaan in ‘n familie-vriendelike park asook ‘n buitelewemark vir inwoners omskep word.
Die besluit om die woonstelle te sloop, is geïnspireer deur herontwikkelingsplanne vir die Mimosa-buurt en die huidige onveilige toestand van die woonstelgebou as gevolg van die ouderdom van die gebou.
Die stad Bloemfontein se goedkeuring vir hierdie ontwikkeling sal die nodige investering meebring.
Die sloop van die gebou sal in die laaste week van April begin en inwoners in die gebied kan vir ‘n week blootgestel wees aan meganiese geraas en stoftoestande. Daarna sal bourommel verwyder word, wat vir die volgende 10 dae sal duur. Die omgewing sal beveilig word en die risiko vir aangrensende geboue behoort minimaal te wees. Die hele proses sal na verwagting in Julie 2019 voltooi wees.
The Mimosa Gardens se opening is geskeduleer vir min of meer die einde van die jaar, en meer inligting oor die park en familie-mark sal binnekort bekend gemaak word. – SAZLY HARTZENBERG
sazly@centralmediagroup.co.za