Metro kry nuwe vloot

0
508
Van die voertuie en motorfietse wat in gebruik geneem is deur die Mangaung Metro

Die Mangaung Metro is van mening dat dienslewering in Bloemfontein in die nabye toekoms sal verbeter nadat ‘n tweede vloot vulliswaens aan verskeie departemente in die stad oorhandig is.  Die burgemeester van Mangaung, Olly Mlamleli, het Vrydag die vloot op Hoffmanplein in ontvangs geneem namens die metro.

Die hoof van afval- en vlootbestuur, Sello More, het aan Bloemfontein Courant gesê dat die fokus steeds op dienslewering is aangesien dit vir die hele stad ‘n groot probleem is. Hy het verduidelik dat die metro onder meer voertuie ontvang het wat vir vloede, vullisverwydering en die skoonmaak van rioolpype in die stad gebruik sal word.

‘’Ons het ook besluit om die goedkoper roete te gaan en vir ons verkeersbeamptes motorfietse te kry,’’ het More gesê. Hy sê hulle kon nie Vrydag die vulliswaens demonstreer nie, want daar is ‘n massiewe agterstand in vullisverwydering en die trokke moes dadelik gebruik word. “Die brandweer behoort ook later in die jaar sy vloot te ontvang,’’ het More bygevoeg.

Volgens More het hulle op die oomblik  95% werknemers beskikbaar om die vlootvoertuie te gebruik en is hulle besig om vakante poste te vul. – Sazly Hartzenburg
sazly@centralmediagroup.co.za