Regte en voorregte. Dit is die kwessie in ons moderne samelewing. Het ons die reg om te maak wat ons wil? Kan ons alle grense oorskry as dit kom by die beginsel van menseregte? Onwillekeurig het my gedagtes teruggegryp na die teks in Pslam 139: 13: “U het my gevorm, my aanmekaar geweef in die skoot van my moeder.” ’n Onbeskryflike voorreg! Niks uit myself nie, net genade en die kans wat God vir jou en my gee om hier ’n verskil te kan maak. Die oomblik toe ek dit lees, het ek besef dat om mens te wees, ’n voorreg is. Om te kan leef, is ’n voorreg, om te kan kies is ’n voorreg, en om jouself te kan wees in besluite en keuses is alles net gekoppel aan die voorreg van mens-wees, wat ons uit genade ontvang het. Hierdie voorreg bring egter ook verantwoordelikheid; hoe ons ander mense met respek behandel en hoe ons die natuur en die lewe koester. Uiteindelik moet ons dorp en stad en die styl waarin ons ander selfs op die paaie hanteer, iets vertel van die voorreg wat ons het om self te kan leef. Geen reg nie, net ’n onbeskryflike voorreg!
Ds. Stephan van Heerden
* Van Heerden is ’n geestelike leier by die NG Klipkerk en ’n pastorale sielkundige.