Mej. Heidedal-finalis maak verskil in ander se lewe

0
1640
Cornisha Maasdorp en Ayesha Botha het besoek by Omega Ouetehuis afgelê om sop en broodjies uit te deel.

Dit blyk dat die yskoue winter nog lank in Bloemfontein gaan duur en daarom het ‘n Mej. Heidedal-finalis besluit om ander se harte warm te maak.
Cornisha Maasdorp het dit goed gedink om twee projekte, wat deel vorm van haar take as Mej. Heidedal-finalis, aan te pak.
Op Sondag 17 Junie, het Maasdorp en Ayesha Botha, ook ‘n finalis, saamgewerk om die bejaardes van die Omega-ouetehuis met sop en broodjies te verras op Vadersdag. Nie net het die vaders ontvang nie, maar ook die moeders. Almal het ook ‘n pakkie lekkernye ontvang. Ander besighede was ook by die projek betrokke en het hulle deel bygedra om die vaders met geskenkies te bederf.
Maasdorp se ma, Avril Maasdorp, vertel haar dogter se tweede projek behels om twee kinders gelukkig te maak. “Sy is baie lief vir kinders en kan glad nie ‘n kind sien swaarkry nie, of dit nou is om te sien hulle is honger, kry koud of het nie skoene aan hul voete nie – dit is vir haar ondraaglik.”
Maasdorp gaan deur donasies en insamelings ‘n verskil in twee kinders van Laerskool Olympia se lewe maak. Sy gaan ‘n kos-en-klere-oorhandiging doen terwyl daar ook ontbyt vir die twee leerders, ouers en onderwysers voorberei gaan word.
Die oorhandiging vind op 21 Julie plaas.

JERETHA OOSTHUIZEN
jeretha@mahareng.co.za