Mej. Dowe SA keer terug na Bloem

0
939
Mej. Dowe SA 2009, Vicki Fourie FOTO: TRUREFLECTION STUDIO

Mej. Dowe SA (2009) is terug in haar geboortestad, Bloemfontein, en is besig om haar lewensdoel uit te leef.

Skoonheidskoningin, Vicki Fourie, het aan Bloemfontein Courant vertel dat sy, nadat sy gewen het, anders wou wees as ander modelle. Sy het besluit om nie op liefdadigheidswerk te fokus nie, maar eerder motiveringspraatjies te hou en mense te inspireer. Fourie verduidelik dat sy voorheen by talle skole, kerke en geleenthede in die Rosestad opgetree het as motiveringspreker en haar tema was ‘Dapperheid is nie ‘n geskenk nie, dit is ‘n keuse.’

Na ‘n paar jaar het sy egter gevoel dat haar seisoen in die stad is verby en toe besluit om Kaap toe te trek. Dáár het toe ‘n wonderwerk gebeur wat nie sou gebeur het as sy nie verhuis het nie. Sy het die kans gekry om vir haar eerste kogleêre inplanting te gaan, en daarna vir die tweede een. “Dit het my lewe verander, want voor dit het ek net 3% gehoor gehad.”

Fourie vertel dat haar pa in daardie tyd dood is en sy en haar ma moes besluit wat hul volgende stap in die lewe gaan wees. Hulle besluit toe om terug te keer na Bloemfontein. Dit was vir haar ‘n maklik besluit omdat die mense hier haar altyd ondersteun het en sy hier vrede vind.

Sy het toe besluit om weer met motiveringspraatjies te begin, die keer met ‘n ander tema. Sy is in haar skouer geskiet op 14-jarige ouderdom en het daarna met depressie gesukkel. Sy het dit oorwin nadat sy haar lewe vir die Here gegee het en dit haar geïnspireer net om wanneer sy met tieners in die hoërskool gesels, te fokus op die tema ‘Identiteit: Wie is ek en wat glo ek oor myself?’ Wanneer sy ‘n laerskool besoek, is haar tema ‘Ek Weet Jy Kan.’

Sy deel praktiese voorbeelde met die kinders, soos byvoorbeeld hoe sy ballet gedoen het op skool sonder om die musiek te hoor en wat haar geïnspireer het om dramaklasse te neem, al kon sy nie haar eie stem hoor nie.

Fourie het onlangs die Tributes Excellence Award gewen onder die Creative Arts-kategorie vir haar werk as motiveringspreker in Suid- Afrika. Fourie kan gekontak word by haar e-posadres, vickifourie@yahoo.com. – Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za