Megan en Rianette wen SA pluimbaltitels

0
957

RUFUS BOTHA

Die sluise is oop as dit kom by skitterende pluimbalvertonings deur Bloemfonteinse spelers en daar bestaan geen twyfel meer dat die Rosestad die mekka van pluimbal in die land is nie. Die plan is ook duidelik om dié mekka te bly.

Hierdie keer is dit die jongelinge van die Vrystaat wat amok gemaak het op nasionale vlak.

Die Vrystaatse onder 13-span het gedurende die laaste week van die skoolvakansie in Oos-Londen gewys wat in hulle steek deur die nasionale titel te wen.

Die span-oorwinning is hoofsaaklik te danke aan twee van die Laerskool Fichardtpark se spelers, Megan de Beer en Rianette Kemp wat as individue die kitaar geslaan het deur elkeen met ‘n goue medalje huiswaarts te keer.

De Beer, wat reeds die Suid-Afrikaanse enkelspeltitel vir meisies o.15 in April gewen het en dié titel nog twee jaar kan verdedig, het in Oos-Londen maklik die enkelspel ingepalm. ‘n Tweede titel was haar egter nie beskore nie, want sy en haar spanmaat van Gauteng is deur Kemp en haar spanmaat van Namibië in die dubbelspel getroef.

In die gemengde dubbelspel het De Beer weer tweede viool gespeel toe sy en haar Vrystaatse spanmaat Logan van Wyk in die eindronde pakgekry het.

Nog silwerware is bymekaargemaak deur die Vrystaatse dubbelspelpaar in die seunsafdeling toe WJ Bestbier (Fichardtpark) en Marnus van der Walt (Willem Postma) in die eindronde vasgeval het en silwermedaljes ingeoes het.