Meesterbrein steeds betrokke by Mev. Bloemfontein

0
821
Nella van Heerden. FOTO: iFlair Photography

Die meesterbrein agter die Mev. Bloemfontein-kompetisie, Nella van Heerden, het haar vlerke na Pretoria gesprei ná 71 jaar in die Rosestad.

Ná haar vroeë aftrede weens kroniese artritis in 1996, het sy besef dat sy regtig baie daarvan hou om met mense te werk en om funksies te organiseer. So het haar besigheid – Nella van Heerden Promosies – begin, wat skoue en ekspos aangebied het.

“In 2005 het ek die Mev. Bloemfontein-projek vir die eerste keer aangebied. Vandaar het die projek van krag tot krag gegaan, waar dames meer geleer het oor gemeenskapsdiens, publieke optrede, bemarking, persoonlike styl, grimering, asook loopplankwerk gedoen het. Die inperkings weens Covid-19 was nie baie goed vir ons nie, want ons kon nie byeenkomste en funksies reël soos gewoonlik nie. Nogtans het ons volhard en die 19de wenner is gekies,” sê Van Heerden.

Sy sê verder dat haar trek nou al vir die afgelope nege jaar in die pyplyn is. “Ons seun Johan is in Mei 2013, in die ouderdom van 35, aan ‘n hartaanval oorlede. Sulke persoonlike trauma verander alles – van jouself, jou menswees, jou daaglikse roetine tot jou toekomsplanne. Niks is weer dieselfde nie. Ek het besluit om die aanbieding van die Bloemfontein Bruidskou te staak, want Johan was altyd deel van die organisasie en uitleg van stalletjies vir die skou.”

Nella en haar man Dries het toe besef dat Bloemfontein net te veel herinneringe het en besluit om Pretoria toe te trek waar hul dogter, Marihette Joubert, woon. “Hierdie planne het eers nege jaar later begin realiseer. Soos ons weet – God se tyd is nie ons tyd nie.”
Nella sê sy gaan verseker die meeste na die mense van Bloemfontein verlang. “Jare lange kennisse het spesiale vriende geword. Die plaaslike radiostasies en natuurlik die stadsverkeer… [Bloemfontein] is heelwat rustiger as dit wat ons tans ervaar.”

Sy sal steeds in beheer wees van Mev. Bloemfontein, maar in ‘n mindere mate. “Ek is bevoorreg om vroue te hê wat dieselfde passie vir die projek as ek deel. Tracey Coetzee, Mev. Bloemfontein 2021, is tans my vennoot om die alledaagse reëlings en administrasie te behartig en Belinda Koorsen, ook ‘n vorige lid van ‘n wengroep, sal as mentor vir die deelnemers optree. Daar is ook ‘n professionele beoordelingspan wat reeds deelgeneem het en presies weet wat van die deelnemers verwag word om die beste van die bestes aan te wys. Ek sal met die groter funksies na Bloemfontein reis om deel daarvan te wees,” sê sy.

Mev. Bloemfontein 2023 sal by ‘n spoggeleentheid in Oktober 2022 aangewys word.

Justine Fortuin
justine@mahareng.co.za