Meer geld in die sak op jou oudag

0
1209

Die laaste paar weke gesels ons oor belasting en hoe jou belastinglas in die toekoms al hoe swaarder gaan raak.
Belastingbeplanning is nou dus meer belangrik as ooit tevore. Hoe meer jy aan inkomstebelasting betaal, hoe minder het jy in jou sak om van te leef.
Natuurlik styg mediese koste met heelwat meer as inflasie, so pasop dat jy nie op jou oudag met ‘n mediese fonds sit wat jy nie meer kan bekostig nie. Maak die nodige voorsiening. Doeltreffende belastingbeplanning nou, kan jou help om op jou oudag meer geld in die sak te hê vir ander noodsaaklikhede.
Dié rubriek is dus meer gerig op die mense wat nog tyd aan hul kant het voor aftrede. Dit is egter nooit te laat om op enige ouderdom, sover moontlik, strategieë te implementeer om inkomstebelastingimplikasies te beperk nie.
Die belastingvrye beleggingsprodukte wat ‘n paar jaar gelede bekend gestel is, is ‘n nuttige hulpmiddel wat jy nou reeds kan begin benut om met jou aftreejare te kan spaar op belasting. Indien jy vir jou aftrede voorsien deur slegs gebruik te maak van aftreefondse (pensioen-, voorsorgfonds en/of uittree-annuïteite), gaan jou inkomstebelastinglas by aftrede swaar weeg.
Die maandelikse inkomste betaalbaar uit aftreefondse (waarskynlik ‘n lewende annuïteit), word soos ‘n gewone inkomste belas volgens die Ontvanger van Inkomste se belastingskale. Hoe groter die inkomste, hoe meer inkomstebelasting gaan jy betaal.
Indien jy vroeg reeds in ‘n belastingvrye belegging ook begin spaar het, kan jy met aftrede ‘n belastingvrye inkomste trek uit die belegging. Dit beteken dus jy kan die inkomste wat jy op jou lewende annuïteit sou trek verminder, en sodoende ook die meegaande inkomstebelasting verminder. Indien jy met ander diskresionêre beleggings soos effektetrusts of aandele sit, kan jy uit die beleggings ook eerder ‘n inkomste trek, aangesien die effektiewe belasting op die tipe van gelde aansienlik minder is, as dit wat jy op ‘n inkomste uit ‘n lewende annuïteit gaan betaal.
Deur dus jou aftreejare se inkomstebronne te diversifiseer, kan jy aansienlike besparings op inkomstebelasting geniet, en meer geld in jou sak hê vir noodsaaklike uitgawes.
Navrae is welkom. Stuur ‘n e-pos, dan kan ek uitbrei op strategie.

HORACE TERRY
horace@nassaux.com