Meer as twee miljoen mense in vier maande deur Lesotho-grensposte

0
661

Die departement van binnelandse sake in die Vrystaat sê sowat 2,5 miljoen mense het die afgelope vier maande die grens tussen Suid-Afrika en Lesotho oorgesteek.
Dit is volgens 'n voorlegging deur die provinsiale bestuurder van die departement, Bonakele Mayekiso, aan die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake.
Hy sê die meeste reisigers en pendelaars – meer as een miljoen – is by die Maserubrug-grenspos aangeteken.
Mayekiso sê die grootste gedeelte van mense wat by grensposte aangedoen het sedert die begin van die nuwe finansiële jaar, is buitelanders. Hy sê die departement het sowat 2 800 onwettige buitelanders opgespoor en meer as 1 800 is gedeporteer.
Komiteelede het aangedui dat die koste van die deportasie van Lesotho-burgers bereken behoort te word. – Cathy Dlodlo