Drie goedhartiges, Andrus Strauss, Francois Badenhorst, en Rooies Strauss, het vroeg in die week die pad gevat na Springs in Gauteng met 64 000 sakkies meel, bestem vir mense wat swaarkry in Sentraal Suid-Afrika.
Die drie mans is van School of Fire, buite Upington in die Noord Kaap. School of Fire lei sendelinge op, doen werk met dwelmverslaafdes, en boer selfs met krokodille.
Een van hul bestemmings was Bloemfontein, waar die mans mieliemeel uitgedeel het aan minder bevoorregte mense, en instellings wat ander ondersteun.
“Ons doel is om die armes se honger te stil, waarvan daar tot 12 miljoen in Suid-Afrika is wat honger gaan slaap, daarom het ons ’n meule op die plaas vir hierdie doel,” het Rooies Strauss verduidelik.
School of Fire ontvang skenkings van regoor die streek, en help so mense regoor die land.
“Die skenkings is van boere wat vir ons maandeliks gee, en ons dank die Here vir boere in die Vrystaat wat vir ons mielies aanry, wat dit ook party keer gratis aanry,” het Strauss vertel.
Hy het verder gesê dat hulle gereeld so ’n reis aanpak. “Ons doen dit gereeld,” het Strauss vertel, die laaste reis was Port Elizabeth toe.”
Die span maak hul planne op Facebook bekend, en lig diegene in nood vooraf in dat hulle op pad is. Mense wat swaarkry kan dan ’n sakkie meel by hulle afhaal.
“As jy arm is, kry jy die meel gratis,” het Strauss gesê. “Ons gee ook graag aan instansies, want ons kan nie self by elke huishouding stop nie.”
Volg hulle op Facebook vir meer inligting, asook hoe om hulle te ondersteun. Die kleinste donasie kan help om ‘n gesin in nood te voed.
Warren Hawkins






