Medikasie-tekorte pootjie pasiënte

0
6895

LANI FOUCHÉ

Pasiënte wat aan kroniese mediese toestande ly en op die regering vir hul medikasie staatmaak, word dikwels by klinieke in Bloemfontein weggewys. Dit het onlangs aan die lig gekom dat staatsapteke en klinieke in en om Bloemfontein gereelde tekorte in sekere medikasies het, veral diabetes-medikasie.
 Courant het op voorwaarde van anonimiteit met susters by verskeie klinieke in en om Bloemfontein gepraat wat gesê het hulle moet dikwels pasiënte met leë hande huistoe stuur omdat daar sporadiese tekorte aan sekere pille en insulien-inspuitings is.
‘n Bloemfonteiner wat aan erge diabetes ly, Anna Mokoena, sê sy moes verlede week sonder haar noodsaaklike spuit klaarkom, omdat sy duer klinieke van bakpoort na stuurboord gestuur is om haar medikasie tekry.
 Dit was egter tevergeefs. “Hulle sê by die een kliniek ek moet na die ander een gaan, hulle het nie die medication nie. Dan het hulle daar óók nie. Ek kan nie so ver stap nie, my sugar levels is nie lekker nie en ek voel naar en nie so lekker nie. Ek kan ook nie so baie betaal vir transport nie.” Sy sê as sy nie die oggend haar 25 ml insulien-inspuiting gehad het nie, voel sy net na 11:00 siek en kan nie verder werk nie. “Ek kan nie eers staan nie, my kop is seer, ek is naar… eish, ek kan nie so werk nie. Waar moet ek gaan? Wat moet ek doen?”
Die vereniging van onafhanklike gemeenskapsapteke se direkteur in die Vrystaat en Noord-Kaap, Wim Grobbelaar, verduidelik dat dit lewensbedreigend kan wees wanneer ‘n diabeet sonder medikasie moet klaarkom. “So ‘n persoon kan in ‘n hipo- of hiperglisemiese koma gaan. Dit is baie gevaarlik. As jy gaan vir ‘n toets vir diabetes, en die uitslag toon ‘n lesing van tussen nul en vyf, is dit normaal. Enigiets bo tien is gevaarlik, en moet jy dadelik ‘n dokter of internis gaan sien.”
Die vereniging het vroeër verlede maand ‘n veldtog van stapel gestuur in ‘n poging om mense bewus te maak van die gevare van diabetes, en hulle aan te moedig om hulleself daarvoor te laat toets. Statistieke toon dat 80% van Suid-Afrikaners wat aan diabetes ly, nie daarvan bewus is nie. “Ons plan was om teen die einde van Oktober ‘n honderd duisend mense in die land te toets,” het Grobbelaar gesê.
Die Vrystaatse departement van gesondheid het nog nie op herhaalde navrae van Courant rakende die omvang van die beweerde medikasie-tekorte gereageer nie.