Mediese student UV se Abe Bailey-beursontvanger

0
453

KOSHUISPRIMARIUS, studenteraadslid, Golden Key International Honour Society-lid en nou ook Abe Bailey-beurshouer. Dis van die prestasies en leierskaptitels wat Michael van Niekerk, ‘n vierdejaar-MBChB-student aan ons universiteit, reeds op sy kerfstok het.

Van Niekerk is een van 18 Suid-Afrikaners landswyd wat in November instellings in Engeland en Skotland gaan besoek nadat hulle die gesogte Abe Bailey-reisbeurs vir 2013 ontvang het. Die beurs erken akademiese, leierskap- en gemeenskapsdiensuitmuntenheid en word jaarliks aan derdejaarstudente en/ of junior dosent wat nie ouer as 25 jaar is nie, toegeken.

Die 2013 Abe Bailey-beursontvangers vertrek op 20 November 2013 na Kaapstad vir ‘n twee-dag-lange oriënteringsproses en reis daarna na Londen en Edinburg, waar hulle universiteite, sowel as plekke soos Londen se House of Lords gaan besoek.

Van Niekerk, wat onlangs die VSA besoek het as deel van Golden Key International Honour Society se International Scholar Laureate-program, sê dis ‘n ongelooflike voorreg om die UV se Abe Bailey ontvanger vir vanjaar te wees. "Ek is besonder geseënd om nie net op mediese gebied te presteer nie, maar ook in leierskap en ander aspekte en glo dat dit absoluut genade van Bo is. Ek glo hierdie is ‘n geleentheid en ‘n trap tot ‘n groter toekoms. Ek glo nie daarin om gemiddeld te wees nie en glo dat dit die kans is om myself verder te bewys en meer te bereik."

Die Kovsie-student sê hy het groot planne vir die toekoms. "As die Here wil, wil ek baie graag spesialiseer in neurochirurgie, kardiotorakschirurgie of traumachirurgie. Ek sal graag die Rhodes-beurs wil verwerf en sal dit my teiken maak."

– VERKLARING.