Volgens Smith het drie gevangenes gister ‘n tronkbewaarder aangeval en met ‘n wapen gesteek tydens die portfolio komitee se besoek aan die tronk. “Dit was nie bewaarders wat ‘n gevangene aangerand het nie. Dit was drie gevangenes wat ‘n tronkbewaarder met ‘n wapen gesteek het en uit die aard van die saak moes die ander bewaarders die gevangenes wat betrokke was onderdruk,” het Smith vanoggend aan Courant gesê.
Smith sê verder dat joernaliste ‘n ooreenkoms om nie die tronk binne te gaan of foto’s te neem nie, verbreek het. “Die rede hoekom ek die besluit geneem het om nie joernaliste toe te laat om saam met die portfolio komitee na die beskadigde selle te gaan nie, is omdat dit onwettig is om foto’s van gevangenes te neem sonder hul toestemming. Tweedens, aangesien hierdie area onvoorspelbaar was, weet ons dat die teenwoordigheid van parlementslede en media die spanning verder sou verhoog. En derdens is dit ‘n sekuriteitsarea waarvan daar nie foto’s geneem mag word nie. So dit was die redes wat aan die joernaliste gegee is en almal het daarmee saamgestem,” het Smith gesê.
Hy het bevestig dat die foto’s wat onwettig deur die joernaliste geneem is, vernietig is. Smith kon nie op die stadium sê waar die gevangenes die wapen gekry het waarmee die bewaarder gesteek is nie, maar het wel gesê dat al die gevangenes betrokke krimineel vervolg sal word.