Martie se melktert ‘n ware Bloemfonteinse roos

0
4595
Martie Lamprecht by haar immergewilde melktert. FOTO: MARICELLE BOTHA

TV-kykers landwyd is verlede jaar bekend gestel aan die gebak van die afgetrede, plaaslike verpleegkundige, Martie Lamprecht, toe sy die Rosestad in die tweede reeks van Koekedoor op kykNET verteenwoordig het.
Sedertdien woeker sy meer as tevore om ander in die kombuis te inspireer. Bloemfontein Courant het ‘n voëltjie hoor fluit dat haar gesogte melktert nou selfs buite ons streek opspraak maak. Ons het gaan inloer om te hoor waaroor die bohaai gaan en terselfdertyd geproe aan die veelbesproke lekkerny.
Lamprecht begin met groot opwinding oor haar lewe ná Koekedoor gesels terwyl sy die rooi ketel vir koffie aanskakel. Een produk wat haar na aan die hart lê, is egte Vrystaatse geel mieliemeel, of soos sy dit noem, Vrystaatse Goud. Tydens die finaal van die reeks het sy vir elke deelnemer en beoordelaar ‘n unieke sakkie mieliemeel, wat sy self gemaak en ontwerp het, saamgeneem. Sy lag lekker as sy vertel hoe sy byna al haar klere in haar handbagasie moes pak sodat sy haar groot tas vol meel op die vliegtuig kon kry.
Tydens haar deelname aan die program het sy haar bobaas-melktert gemaak en die beoordelaar Marie-Louis Guy was mal daaroor. Dit was wel vir haar ‘n groot verrassing toe sy onlangs, maande ná die reeks, ‘n oproep van Guy kry om te hoor of haar melktertresep in Guy en haar broer, Callie Maritz, se nuutste resepteboek, Die Suid-Afrikaanse Melktert-versameling, opgeneem mag word.

Marie-Louis Guy  en Callie Maritz.
Marie-Louis Guy en Callie Maritz.

“Ek was uit die veld geslaan. Boonop moet ek ook nou op 25 Februarie die amptelike boekbekendstelling bywoon. Dit word die vorige dag op Nasionale Melktertdag in Pretoria bekendgestel en dan die volgende dag in die Kaap,” vertel Lamprecht.
Guy is ewe opgewonde oor Lamprecht se deelname aan die boek. “Ons versamel al vir jare heerlike melktertresepte en met die eerste Koekedoor was ek weer eens verbaas oor hoe verskillend die deelnemers se tegnieke en gebak was – baie eenvoudige bestanddele met ‘n legio variasies. Ons het ook ‘n paar video’s gemaak, onder meer saam met Weg-tydskrif, en dit was baie gewild. Verlede jaar het ons ‘n paar melkterte saam met ons kinders op Nasionale Melktertdag gebak. Die gogga het ons gebyt en daardie foto’s is ook in die boek,” vertel sy.
“Martie is ‘n puik bakker en haar melkterte is celebrities in eie reg. Sy is vir ons Bloemfontein se roos – die móóiste vrou met soveel talente. Haar resep is een van die groot gunstelinge onder die paneel wat ons laat proe het. Lieflik,” sê sy oor Lamprecht se betrokkenheid by die boek. Die titel van Lamprecht se melktert in die boek is dan ook “Bloemfontein se Roos”.MELKtert_finaal Cover (1)Volgens Guy lê ‘n melktert-wenresep in daardie eerste happie wat jy neem. “As jy vir ons vóór hierdie boek gevra het, sou ons dalk sê beslis met ‘n kraag, maar nou, met al die resepte wat met soveel liefde met ons gedeel is uit soveel gebiede, besef ons dit gaan terselfdertyd oor daardie unieke mondgevoel, ferm en tog ook sag en romerig. ‘n Misterie.”
Guy meen wat Lamprecht se resep so spesiaal maak, is klassieke perfeksie. “Daardie byna onmoontlike gebak – ‘n sagte, net gestolde vlavulsel met ‘n pragtige, botterige kraag, voorwaar ‘n bak-triomf.”
Die boek word ook in Engels onder die titel, The South African Milk Tart Collection, gepubliseer en sal kort ná die bekendstelling landwyd in boekwinkels beskikbaar wees.
Volgens Guy is hierdie beeldskone melktertboek geskik vir koffietafels asook besige kombuise. Dit is ook ‘n pragtige geskenk vir toeriste of familie wat ver woon. – Maricelle Botha
maricelle@centralmediagroup.co.za