Martie du Plessis reik uit na DBV

0
1361
Jacques Redelinghuys, Ria Venter, Tebogo Maswanganye, Charmaine Engelbrecht en Ronnie Bester. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Leerders van die Martie du Plessis-skool het besluit om van vandeesmaand af hande te vat om iets terug te gee aan die gemeenskap.
“Ons ontvang altyd en daarom het ons besluit om bietjie terug te gee aan die gemeenskap en te wys ons gee ook om,” het Ria Venter, ‘n onderwyseres by die skool, vertel.
Die eerste gemeenskapsprojek was ten bate van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) wat kombersies, hondekos en speelgoed nodig gehad het. Die DBV is ‘n nie-winsgewende organisasie wat self oor die weg moet kom.
“Al die klasse uit elke graad in die skool sal maandeliks ‘n beurt kry om iets soos ‘n kombersie, hondekos of ‘n speelding in te samel om dan aan die DBV te oorhandig. Die DBV het dit by ons skool kom afhaal, maar van volgende maand af sal ons dit aflewer,” het Venter gesê.
Venter vertel dat sy baie verbaas is oor die eerste insameling en dat die kinders en hul ouers baie moeite gedoen het om van die projek ‘n sukses te maak. “Hierdie insameling sal maandeliks plaasvind en sal ‘n jaarlikse projek vir die skool wees,” het sy bygevoeg.
Charmaine Engelbrecht van die DBV is dankbaar dat die skool die vereniging gekies het as hul gemeenskapsprojek. “Ons is bevoorreg en elke bietjie wat aan die DBV geskenk word, help.” het sy gesê.

JERETHA OOSTHUIZEN
jeretha@mahareng.co.za