Mark vir behoeftiges nou groter en beter

0
613
Die Claassens-familie wat die mark begin het en eienaars van B & H Paneelkloppers is, is van links, Bianca, Herman Sr, Alta en Herman Jr.

Die Claassens-familie het verlede jaar met groot sukses kos en klere ingesamel vir minderbevoorregte mense in die gemeenskap. Dit het hulle laat besef dat hierdie jaar (2019) se insameling groter en beter moet wees.

Die tweede poging, getiteld die Monument-vlooimark, wat deur die Claassens se onderneming, B & H Paneelkloppers, aangebied word, vind hierdie Saterdag by die Vrouemonument in Bloemfontein, van 12:00 tot 20:00, plaas.

Mense hoef ook nie ‘n arm en been vir toegang te betaal nie. Volgens Herman Claassens Jr, sal die toegangsgeld vir die mark ‘n speelding wees omdat die doel van die mark is om speelgoed vir Kersfees in te samel vir minderbevoorregte kinders in die gemeenskap.

“Die rede waarom ek op speelgoed besluit het, is omdat ek ‘n paar jaar gelede gesien het hoe ‘n klein dogtertjie van drie jaar met ‘n klip sit en speel. Die klip was haar babapop. Dit het my so hartseer gemaak. Om te dink, die dogtertjie het nog nooit ‘n regte pop of speeding gehad nie,” vertel hy.

Herman verduidelik verder dat daar ook ‘n dansskool gaan optree van 12:45 af en drie plaaslike sangers van 14:00 tot16:30. By B & H Paneelkloppers voel hulle dat ‘n kind ‘n geskenk van die Here is en elke kind verdien om te kan speel en te kan glimlag.
Volgens Herman gaan daar twee gholfkarretjies beskikbaar wees om ouer mense of mense wat sukkel om te loop van die ingang tot by die mark te vervoer.

Hulle verwag vanjaar 2000 mense vir B & H Paneelkloppers se vlooimark en is ongelooflik opgewonde om die hele Bloemfontein daar te sien.

Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za