Mark bly agter slot en grendel

0
732
Shinel Schoeman en Elza Diedericks

Die gewilde Langenhoven Mark se hekke sal vir eers gesluit bly totdat toestemming verkry is om te heropen. Dit kom nadat die polisie verlede Saterdag die mark weens Covid-19-inperkingsmaatreëls gesluit het.

“Ons het nie ‘n keuse as om gesluit te bly nie. Ons het ook geen nuwe inligting nie, en van die polisie se kant af is daar net stilte.” Dit volgens bedryfshoof van die Langenhoven Mark, Leon Oosthuizen. Hy sê hulle is wel besig is om regsadvies in te win.

Leon Oosthuizen

Oosthuizen het aan Bloemfontein Courant vertel uitstallers by die mark het Saterdag groot verliese gely – nie net aan inkomste nie, maar ook aan bederfbare produkte wat tot niet gegaan het. “Een uitstaller het ‘n opname onder 35 uitstallers gedoen. Hulle het ‘n verlies van R200 850 bereken. Daar was verlede Saterdag ongeveer 180 uitstallers. Wat baie nie verstaan nie, is dat indien ons nie oopmaak nie, daar vir baie uitstallers geen inkomste is nie.”

Volgens Oosthuizen was daar slegs een toegangshek, beman deur veiligheidspersoneel wat ontsmettingsmiddels byderhand gehad het. Niemand sonder ‘n masker is toegelaat nie. “Ons gebruik die luidspreker-stelsel om besoekers in kennis te stel om hul maskers te dra en sosiale afstand te hou. Tafels en sitplekke was met ‘gevaarband’ toegemaak sodat mense nie kon gaan sit en eet nie.”

Een van die uitstallers, Shinel Schoeman (stalletjie 215) het aan Bloemfontein Courant vertel dat die mark ‘n plek is waar hulle netwerk en nuwe kliënte ontmoet en kontakte bou. Dit is ‘n bron van inkomste en ‘n absolute noodsaaklikheid.

Schoeman en Elza Diedericks (stalletjie 301) sê hulle en baie medestalletjiehouers vertrou daarop om op Saterdae hul geld by die mark te verdien. “Die sluiting van die mark was onverwags. As stalletjiehouers word ons deur die bestuur verantwoordelik gehou om die reëls na te kom, en dit is wat ons doen.”

Hulle vertel dat die bestuur hulle op die hoogte hou van regulasies en hoe dit gevolg moet word. “Baie mense word positief geraak deur die mark, stalletjiehouers sowel as besoekers, en ons vertrou dat dit ‘n misverstand was wat kalm en vinnig opgelos sal word. Ons sien uit na die heropening van die mark.”

Nog ‘n uitstaller, Elize van Zyl van Elize se Vetties (stalletjie 230), verduidelik dat Saterdag vir hulle ‘n bitter groot teleurstelling was. “Ons mense is afhanklik van die mark. Dis ons brood en botter en krag vir die week. Die manier waarop die polisie daar opgedaag het en die mark onmiddellik laat sluit het, het baie van ons groot skade laat ly.”

Elize van Zyl

Sy sê baie uitstallers koop voorraad aan om juis op ‘n Saterdag te verkoop vir ‘n klein wins. “Ons het almal ‘n verlies gely. Net om te dink aan die mense wat kos gemaak het wat hulle nie kon verkoop nie. Ek verdien ‘n salaris by die mark om ‘n lewe te maak en kan nie daarsonder nie.”

Sazly Hartzenberg

sazly@mahareng.co.za