Marise dink local is lekker

0
400
Marise de Vos

Marise de Vos was voorheen deel van die MarNet-suster-sanggroep wat welbekend was onder Suid-Afrikaners, maar veral onder Bloemfonteiners. Deesdae is sy alleen op die verhoog te sien, en hoewel sy haar suster, Johannette, langs haar mis, is sy steeds net so lief om gehore te vermaak.

MarNet het in 2003 ontstaan en gou opgang gemaak. In 2012 is sus Johanette getroud en Marise het in 2013 haar eerste solo-optrede gehad. In 2017 het die MarNet-groep heeltemal ontbind nadat die ryery tussen Johannesburg en die Rosestad te veel geraak het vir die twee. “Dit was vir my ‘n groot aanpassing toe ek skielik alleen op die verhoog is. Vir 10 jaar was Johannette my ‘beter helfte’ op die verhoog.”

De Vos moes egter vinnig leer om op haar eie voete te staan. Met net 25% gehoor, was haar suster vir haar tot groot hulp. “Ek moes harder oefen en baie harder werk sonder haar langs my,” vertel sy.

Deesdae is De Vos in feitlik elke kuierplek te sien en sing sy baie kommersiële musiek. “Dit is net iets wat in ‘n kuierplek werk,” verduidelik sy. Sy wil graag fokus om meer country rock te sing. Sy sê sy oefen nog daaraan. Sy beplan ook om hierdie jaar ‘n EP uit te bring wat vyf liedjies gaan bevat met musiek wat sy graag wil sing.

As dit by haar musiekhelde kom, is dit vir haar moeilik om een uit te sonder. “Ek is mal oor die liedjie Over my Shoulder, gesing deur Mike and the Mechanics, maar ek is ook gaande oor Daniel Wesley se Rainmaker en Francois Bouwer se In die palm van my hand. Hulle is ook albei Bloemfonteiners,” sê sy.

As sy nie op die verhoog te sien is nie, is sy steeds besig met kuns of musiek. “Ek is besonder lief daarvoor om te skilder en liedjies en gedigte te skryf. Na die geboorte van my seuntjie, M.J, wat al amper twee is, het ek maar min tyd daarvoor.”

De Vos wil graag in die toekoms baie meer regoor die land optree. Sy wil ook ‘n dramakursus doen, uitkyk vir oudisies vir televisiewerk, en in 2020 ‘n volle album uitreik. Sy hoop om dan saam met die vervaardiger, Bobby Johnson van Rebirth Studios, ook ‘n Bloemfonteiner, te werk.

“Onthou altyd, droom groot, werk hard, wees altyd opreg en eerlik, vergewe die wat jou leed aangedoen het, en leef net voluit,” verwoord die jong kunstenaar se lewensuitkyk. – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za