Marais hang sy stewels op

0
177
Die Toyota Cheetahs loskopstut, Charles Marais, het na tien jaar as 'n beroepsrugbyspeler sy stewels weens 'n nekbesering opgehang. FOTO: GALLO

Die Toyota Cheetahs-loskopstut, Charles Marais, het besluit dat die tyd reg is om sy uittrede uit rugby aan te kondig. Dié besluit het egter gekom ná ‘n besering.

Die 32-jarige Marais het die hele SuperRugby Unlocked-reeks asook die Curriebeker-reeks weens ‘n nekbesering misgeloop.

Marais het aan Bloemfontein Courant gesê hy voel dit is ‘n wyse besluit om sy stewels op te hang, want hy spook tans met sy derde nekbesering.

“Ek het besluit om my stewels op te hang ná konsultasie met die dokter. Dit is my derde nekbesering en hierdie een is meer ernstig as die ander twee. Daarom het ek besluit om uit te tree. Ek dink, vir my toekoms en dié van my gesin, is dit miskien die beste besluit ter wille van beter lewensgehalte ná my rugbyloopbaan.

“‘n Mens sal altyd die rugby, die spel, die spanmaats, die ondersteuners en al die ander dinge mis, veral om vir die Cheetahs te speel. Dit was vir baie lank ‘n deel van my lewe. Om rugby op TV te kyk en nie deel te wees daarvan nie, sal nie so lekker wees as om te kan speel nie. Jy het altyd doelwitte wat jy elke jaar vir jouself stel, en nou moet ek my fokus na iets anders skuif.”

Marais het bygevoeg dat daar in hierdie stadium ‘n paar opsies is waarna hy kyk, maar hy en sy gesin sal in Bloemfontein bly. “Ons sal in Bloemfontein bly. Dit is ons huis en ons wil graag hier bly. Ons is Bloemfonteiners. Op die oomblik is daar niks konkreet nie, maar ons kyk na ‘n paar opsies, hoewel ek nie met sekerheid kan sê wat die toekoms inhou nie.”

Die Cheetahs se afrigter, Hawies Fourie, het op sy beurt gesê dat Marais ‘n belangrike lid van die span was en dat sy uittrede ‘n leemte agterlaat, maar hulle verstaan sy besluit.

“Charles het Cheetahs-rugby vir baie jare gedien. Dit is hartseer dat ons hom op dié wyse verloor het, maar weens die nekbesering is dit die wyse ding om op sy ouderdom te doen.

“Hy is ‘n kwaliteitspeler en hy was ‘n goeie leier in ons span. Ons sal hom sonder twyfel mis, maar ons verstaan sy redes. Dit is beter vir sy toekoms.

“Daar is nou ‘n plek oop vir die ander loskopstutte om dit hul eie te maak, en ons verwag van hulle om voluit daarvoor te gaan.

“Ons wens Charles alles van die beste toe en vertrou dat hy vinning sal herstel van sy huidige besering.”

Marais is die tweede speler van die Cheetahs wat die afgelope jaar vroeg uitgetree het weens ‘n nekbesering. Verlede jaar het die flank, Gerhard Olivier, sy uittrede uit rugby aangekondig weens ‘n besering wat hy opgedoen het in ‘n PRO14-wedstryd teen die Cardiff Blues.

Marais het die Cheetahs in 112 wedstryde op alle vlakke verteenwoordig, terwyl hy ook vir die Griffons, Kings en Lions gespeel het. Marais was ook in 2016 en 2019 deel van die Vrystaat Cheetahs-span wat koning gekraai het in die Curriebeker-eindstryd. – MORGAN PIEK