Mango se diens nie onderbreek deur besmette petrol

0
Mango se diens nie onderbreek deur besmette petrol
OWEN KOCK

Die laekoste lugredery Mango sê hy het gebeurlikheidsplanne in plek en hul vlugte behoort nie geraak te word deur die besmetting van sewe miljoen liter brandstof in die pypleiding na Johannesburg se OR Tambo Internasionale Lughawe nie. Dit kom nadat die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika gister aangekondig het dat die brandstof-pypleiding na OR Tambo besmet en ongeskik verklaar is vir gebruik deur lugrederye. Dit verminder die lughawe se brandstofvoorraad van vier dae tot net meer as ‘n dag.

Mango se kommunikasie-bestuurder, Hein Kaiser, sê hy voorsien nie dat hul diens enigsins geraak sal word nie. “Alhoewel die petroleum en die jet petrol gekontamineer is, is ons hard besig om daaraan te werk om ‘n alternatiewe plan te maak. So ek glo dat dit op die ou einde nie ons diens sal onderbreek nie,” het Kaiser vanoggend gesê.

Acsa se woordvoerder, Solomon Makgale, het bekendgemaak dat die brandstofpypleiding tussen die Natref-raffinadery op Sasolburg en die lughawe besmet is. Die lughawe ontvang normaalweg sowat driemiljoen liter brandstof deur die pypleiding daagliks. ‘n Verklaring oor die jongste stand van sake word later vanoggend uitgereik.
 

No posts to display