Mangaung taxibestuurders betoog oor roetes

0
802
MARINÉ JACOBS

Taxibestuurders het gisteroggend voor die provinsiale Departement Openbare Werke, Paaie en Vervoer se kantoor in Bloemfontein betoog omdat hulle ontevrede is oor spesifieke roetes wat vir taxis geallokeer is. Die betogers het ook beweer dat verkeersbeamptes onregmatig op van die taxis beslag gelê het, omdat hulle op ‘n “verbode roete” gery het.

Volgens departementwoordvoerder, Zolile Walaza, is daar op vyf klein taxis beslag gelê omdat hulle nie die nodige permitte gehad het om passasiers te vervoer nie. Walaza sê daar is gisteroggend met taxibestuurders ooreengekom dat die departement die voertuie waarop daar beslag gelê is sal oorhandig sodra die nodige permitte getoon is. Rakende die roetes het Walaza gesê dat die roetes daargestel is om konflik tussen taxibestuurders te verminder. “As ‘n taxi in ‘n botsing betrokke is op ‘n roete waar hy nie mag ry nie, sal die versekering nie uitbetaal nie,” sê Walaza. “Dit is dus in die beste belang van die taxibestuurders om by die roetes te hou.” Hy sê dat die departement egter ingestem het om volgende week met die bestuurders te vergader rakende die roetes.

Sommige taxibestuurders het gisteroggend aan Courant gesê dat amptenare in die Departement Openbare Werke, Paaie en Vervoer van die minibus-taxis in die stad besit en dus seker maak dat die mees winsgewende roetes aan die groter taxis toegeken word. Op hierdie bewering het Walaza gesê dat bewyse van hierdie bewerings enige tyd by die departement ingedien kan word en dit sal ondersoek word.

Walaza het ook ‘n beroep op taxibestuurders gedoen om hul griewe met departement-amptenare of hul betrokke taxi-vereniging te bespreek, eerder as om tot betogings of onwettige optrede oor te gaan.