Dit kom nadat die polisie verlede week gemeenskappe in Bloemfontein gewaarsku het oor booswigte wat hulle voordoen as werknemers van die elektrisiteitsverskaffer, Centlec, en huise beroof. Hulle klop by huise aan en mislei inwoners met ‘n leuen dat hulle nuwe gloeilampe, wat elektrisiteit bespaar, in huise wil uittoets.
Polisiewoordvoerder, Chaka Marope, sê twee mans en ‘n vrou in hul dertigs maak dan ‘n afspraak om die nuwe gloeilampe drie dae later te installeer voordat hulle toegang tot huise vra om net vinnig na die bestaande gloeilampe wat gebruik word te kyk.
Hy sê met die rowers se aankoms by huise het hulle geen identifikasiedokumente by hulle nie. Wanneer hulle drie dae later weer by huise opdaag om die gloeilampe kwansuis te installeer, is hulle in blou werkerspakke, met die woorde Centlec Elektrisiteitsdepartement daarop, geklee. Hulle het ook gereedskaphouers by hulle en maak of hulle dadelik aan die werk spring in verskeie kamers in ‘n huis. Marope sê sodra die eienaars rustig raak, beweeg die booswigte rond in die huis en steel skootrekenaars, selfone en ander waardevolle besittings.
Mangaung-metro se woordvoerder, Qondile Khedama, sê inwoners moet paraat wees en nie vreemdelinge in hul huise toelaat nie. Werknemers van die metro moet die nodige identifikasiedokumente kan toon. Khedama sê inwoners kan ook die munisipaliteit bel om te bevestig of werknemers wel daar werksaam is.
Marope sê twee afsonderlike klagte is aangemeld in dié verband en word tans deur die polisie ondersoek. Gebiede wat in Bloemfontein geteiken word, is Universitas en Fauna. – Christal-Lize Muller