Mangaung-metro verloor beheer, sê DA

0
905
Die Mangaung-metro, wat kniediep in die skuld gedompel is, het totaal beheer oor die bestuur van sy administratiewe pligte verloor.

Dit volgens die DA se Rossouw Botes in reaksie op die uitvoerende burgemeester, Olly Mlamleli, se begroting van R7,3 miljard vir die 2018/19-boekjaar wat gister in Bloemfontein ter tafel gelê is. Die DA en ander opposisiepartye het Mlamleli se begroting verwerp.

Botes sê dit is kommerwekkend dat die aanvanklike begroting, op aandrang van die nasionale tesourie, met R850 miljoen afgeskaal is. Dit gaan bestaande swak dienslewering deur die metro nog verder negatief beïnvloed.

Volgens Botes dui die ingryping deur die nasionale tesourie daarop dat die metro gedeeltelik onder administrasie is, en dit is volgens hom die eerste metro in die land wat in duie stort.

Hy sê die metro se werkloosheidsyfer van sowat 39% is ook een van die hoogste in al die metro-gebiede in Suid-Afrika.

Botes sê egter die gemiddelde styging in munisipale tariewe is in ‘n mate ‘n ligpunt, omdat dit laer is as wat verwag is. “In ekonomies moeilike tye en die finansiële krisis waarin die munisipaliteit is, kon hulle nie oorboord gaan om mense te oorbelas nie.” Hy sê van die komponente van dié stygings is redelik naby aan inflasie, maar dit is steeds nie aanvaarbaar vir die DA nie.

Die tariefstygings sluit in sanitasie (8,3%), watertariewe (11,65%), elektrisiteit (6,84%), vullisverwydering (10,83%), asook ander tariewe soos die huur van munisipale sale (10%).

CHRISTAL-LIZE MULLER / OFM-nuus