Mangaung Kunste Akademie kry opleidingstatus

0
579

MARINÉ JACOBS

Die Mangaung Drama- en Dansgroep (MDG) Uitvoerende Kunste Akademie in Bloemfontein het pas status as opleidingsinstituut verkry wat hulle nou in staat stel om beurse aan die wyer publiek beskikbaar te maak. Hoof van die akademie, André Niemann, sê dat dié aantal beurse moontlik gemaak is deur verskeie donateurs soos die Nasionale Kunsteraad en Lotto.

Die MDG Akademie bestaan al vir die afgelope sewe jaar en bied ’n geleentheid aan veral minderbevoorregtes om opleiding in die teater, drama en musiek te ontvang. “Ons het agtergekom dat daar ’n groot behoefte aan opleiding in die performing arts is, veral onder die minderbevoorregtes. Dan is daar ook mense wat eenvoudig net nie kan bekostig om by ’n universiteit te studeer nie,” sê Niemann. “Nou is die kwalifikasie wat ons bied ook by die South African Qualifications Authority goedgekeur.”

Volgens Niemann beloop die akademie se kursusfooi nagenoeg R30 000 per jaar en stel hierdie beurse leerders in staat om tot 50% korting op hul studiefooie te kry. Vir meer inligting rondom hierdie beurse kan Niemann by 082-637-2834 geskakel word.
Besoek ook hul webtuiste by www.mdg.co.za.