‘Maneuvreer’ só op Facebook

0
419

Ek het nog altyd van die woord maneuvreer gehou. Die HAT beskryf dit as “slim bewegings uitvoer”. En dis nie ‘n anglisisme nie. Dit kom van die Latynse manus wat “hand” beteken, en het via die Franse manœuvre (‘n taktiese beweging) deel van Afrikaans geword.

Maar ek wil by Facebook uitkom. Is dit nie verstommend hoe versigtig ‘n mens deesdae moet maneuvreer op sosiale media nie? Ek is gek oor Facebook. As joernalis wil ek sien wat ander doen en ek wil deel wat vir my interessant is.

Jare lank het ek alle vriendskapsversoeke aanvaar. Facebook-gebruikers het gemiddeld sowat 200 vriende. Myne trek al verby 3100. Maar nou het ek uiteindelik besef hulle soek my nie omdat ek so oulik nie. Mense het agendas…

Hoe gemaak met al die vriendskapsversoeke? Om hierdie probleem aan te spreek, het ek die befaamde Grobbelaar Facebook-vriendsiftingsproses ontwerp, waarmee ek die kaf van die koring skei. Ek deel graag gratis my insig.

Jy kyk eerstens na die profielfoto. As daar ‘n bikini of ‘n lae hals of enige teken van ‘n cleavage is, dan druk jy blitsvinnig daai delete-knoppie. Jy hol so ver weg as wat digitaal moontlik is. Tweedens, kyk jy hoeveel “gesamentlike” vriende jy en die persoon het. As jou bestaande pêlle met húl siftingsprosesse die aansoeker deurgelaat het, kan jy dalk ook ‘n kans waag. Maar jy kyk ook derdens na wat die persoon op sy of haar blad post. As elke tweede plasing ‘n eiendoms- of kar-advertensie is, waarop ‘n magdom vriende boonop ge-tag is, moet jy wye draaie loop. Daai smouse gaan jou mal maak.

En dan is daar Messenger. Die vinnigste wat jy van my Vriend na permanent ge-Ontvriend toe gaan, is as daar ‘n boodskap deurkom net nadat ek jou aanvaar het. Die woord “Hi” beteken Koebaai Meraai! En “Your new friend is waving at you” is kort op sy hakke. Ek wil nie ge-“hi” of voor gewaai word nie.

Sien jou op Facebook. Of dalk nie…

Albé Grobelaar