OWEN KOCK
Bloemfontein. – Die langverwagte onthulling van die enorme standbeeld van voormalige president Nelson Mandela, is weer uitgestel.
Die standbeeld, wat agt meter hoog staan, word voorts op 13 Desember op Navil Hill onthul, na dit aanvanklik Vrydag (7 Desember) sou plaasvind.
Op Vrydag 14 Desember, is die amptelike onthulling van die Bram Fischer Internasionale Lughawe, nie te ver van waar Madela sy permanente staanplek sal inneem nie.
Twee dae later begin die 53ste ANC Beleidskongres in Mangaung, wat beteken dat die Rosestad van volgende week af ‘n miernes van bedrywighede sal wees.
Freddy Kenney, Bloemfonteinse sakeman is die skenker van die beeld van meer as R3 miljoen.
Dié beeld van die beeldhouer Chris Hattingh is een van drie Madiba-standbeelde in Suid-Afrika. Hattingh het ook die Mandela-beeld op Sandton Square gemaak en die derde beeld staan by die Groot Drakenstein-gevangenis, naby die plek waar Mandela op 11 Februarie 1990 uit dié gevangenis, toe bekend as Victor Verster, ge-stap het. Dit is deur die Sexwale-familiestigting geskenk.
Die standbeeld wat sy plek op Navil Hill sal inneem, is die grootste Madiba-beeld in die wêreld.