Man wat sy been verloor, prys kliniek

0
1146
Jurie van Wyngardt van Sasolburg.

‘n Man van Sasolburg wat in Desember by familie in Bloemfontein gekuier het en sy been verloor het nadat hy in ‘n spyker getrap het, is geensins bitter oor die ervaring nie, maar is, inteendeel, vol lof vir die Lourierpark-klinkiek waar hy behandeling ontvang het.

“Die Lourierpark-kliniek in Bloemfontein bied uitstekende diens,” sê Jurie van Wyngardt van Sasolburg, wat dié kliniek vroeg in Januarie moes besoek vir behandeling.

Van Wyngardt het aan Bloemfontein Courant vertel hoedat hy in Desember, toe hy met vakansie in Bloemfontein was, op ‘n spyker getrap het en dit deur sy toon gesteek het. Hy het eers homself probeer dokter, maar omdat hy ‘n diabeet is en die voet later begin septies raak het, het hy besef dit gaan langer neem om te genees. Toe die voet egter begin swel, het Van Wyngardt dadelik besef iets is nie reg nie.

“Ek is opgeneem in die Pelonomi-hospitaal waar die helfte van my voet afgesit is. Die dokter daar het my verwys na die Lourierpark-kliniek waarheen ek elke tweede dag moes gaan vir behandeling.”

Met sy derde besoek aan die kliniek het dit geblyk dat daar verdere komplikasies ingetree het. Volgens Van Wyngardt het die suster aanbeveel dat hy onmiddellik die dokter moes gaan spreek, en die volgende oggend is Van Wyngardt se been net onder sy knie afgesit.

Van Wyngard kan nie uitgepraat raak oor die goeie diens van die Lourierpark-kliniek nie. Hy sê dit is ‘n skoon en netjiese plek waar pasiënte vriendelik en met respek behandel word.

Hy vertel dat hy voorheen al baie klinieke besoek het, maar nog nooit een teëgekom waar die personeel soveel passie vir hul werk het nie. Hy het groot waardering vir die manier waarop hulle uit hul pad gaan om mense te help en is beïndruk met die personeel se vriendelikheid en behulpsaamheid. “Ek kan nie glo dat ‘n kliniek so behulpsaam kan wees nie, veral as dit by pensioenarisse kom,” sê hy.

Volgens hom het hy nie eens 20 minute gewag vir sy beurt nie. “Toe ek vir die eerste keer daar kom, het ek met ontsettende pyn gesit, maar die suster daar het dadelik alles in haar vermoë gedoen om die pyn te verlig.”

As hy mense kon aanraai waarheen om te gaan, sou dit beslis Lourierpark-kliniek wees.
Hy sê dat hy so dankbaar is vir die personeel by die kliniek vir al die hulp en ondersteuning.

Van Wyngardt gaan gereeld vir nasorg en opvolgbesoeke na die Lourierpark-kliniek en vertel dat dit reeds baie beter met hom gaan. Hy was nog nie een keer teleurgesteld in die kliniek se diens nie.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za