Man sterf ná bysteek op begrafnis

0
5338
Basil "Milo" Bergman

Hy het sy laaste eer gaan betoon aan ‘n gestorwe lid van die Heidedalse gemeenskap, maar min het Basil “Milo” Bergman (47) geweet dat dit die laaste keer was wat hy dit sou doen.
Bergman is Saterdag omstreeks 10:00 ten tyde van ‘n begrafnisdiens by die AGS Kerk deur ‘n by gesteeek. Toe hy begin sleg voel, het hy huis toe gegaan, sy mediese kaart uitgehaal en ‘n buurman gevra om hom na die Netcare-Pelonomi-hospitaal te bring.
Volgens sy vrou, Linda, het Basil asemhalingsprobleme ondervind. Met sy aankoms by die hospitaal is hy na die hoësorgeenheid gebring.
“Ons het nooit besef dat hy allergies vir bysteek is nie. In die 24 jaar van ons huwelik kan ek geen voorval onthou waarin hy deur ‘n by gesteek is nie. Dit het alles so skielik en onverwags gebeur.”
Linda sê Basil was geliefd onder mense in die gemeenskap. “Die nuus oor sy dood het soos ‘n veldbrand versprei. Oral het mense daaroor gepraat. Dit is self Saterdag tydens begrafnisdienste in ander kerke afgekondig.”
Benewens sy vrou word Basil ook oorleef deur drie dogters, een seun en twee kleinkinders.
Hy word Saterdag, op wat sy 48ste verjaardag sou wees, by die Heather Heights-begraafplaas ter ruste gelê.
Begrafnisgangers kom on 08:00 by die familie se huis by Murisonstraat 16 in Heidedal byeen vir ‘n kort diens. Hierná sal die stoet na die Nuwe Apostoliese Kerk in Rykmanshoogte vertrek vir die begrafnisdiens om 09:00. Die teraardebestelling by die Heather Heights-begraafplaas in Heidedal is om 10:00. – Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za