Bloemfontein is die tuiste van ’n wêreldklas boogskutter, wat by die Internasionale Veldboogskietvereniging se Wêreldkampioenskappe in Brasilië sy krag teen die beste boogskutters gaan meet het.
Sy naam is Kobus Barnard, en hy het nie slegs gaan meeding nie, maar sommer sy tweede Wêreldveldboogskiettitel huis toe gebring en terselfdertyd ’n wêreldrekord in sy klas verbeter. Hy het in 2018 sy eerste wêreldtitel gewen.
Volgens Barnard het hy 30 jaar terug ’n liefde vir dié sport ontwikkel. Die 57-jarige het begin met boogjag, en het in 2008 begin kompeteer.
“Die uitdaging om ’n pyl akuraat te kan skiet oor lang afstande,” is wat vir Barnard die sport so opwindend maak. Hy het ook vertel dat hy veldboogskiet verkies. “Dit is baie meer uitdagend as binnenshuis, as gevolg van toestande wat kan verander,” het hy vertel.
Barnard het in die Veterane Afdeling vir Jagboogskiet meegeding nadat hy vir die negende keer Protea-kleure vir sy geliefde sport verdien het, wat hom die eer gebied het om Suid-Afrika in Foz do Iguaçu, in Brasilië, te verteenwoordig.
“Dit was baie uitdagend,” het Barnard vertel, “die tropiese weer wat vinnig verander, daar was reën, sonskyn, en dit was bewolk op een dag.”
Barnard het wel die toestande oorwin, en het op die tweede dag van die kompetisie die vorige wêreldrekord in sy klas verbeter. Hy het in die jagtersafdeling ’n telling van 541 uit ’n moontlike 560 geskiet om sy naam in die geskiedenisboeke te skryf.
Vir Barnard was dit ’n “onbeskryflike ervaring omdat dit harde werk, baie dissipline, toegewydheid en geduld verg om bo uit kom,” het hy gesê. “Dis natuurlik ook die Genade van Bo wat my daardeur gedra het.”
Warren Hawkins