‘Madiba se afsterwe kan tot ‘n uitstort van nasionalisme en ‘n gevoel van samehorigheid lei’

0
776

OWEN KOCK

Die Amerikaanse president, Barack Obama was een van die eerste wêreldleiers wat op die afsterwe van oudpresident Nelson Mandela gereageer het.
Hy het hom as een van die invloedrykste en dapperste mense beskryf wat die wêreld nog gehad het.
Van die wêreldleiers wat ook gereageer het op Madiba se dood, is die eerste minister van Brittanje, David Cameron, wat gesê het ‘n groot lig in die wêreld is geblus.
Hy het gesê Mandela was ‘n held van ons tyd en hy het gevra dat die vlag by No10 Downingstraat, die premier se woning, halfstok hang ter ere aan Madiba.
Mandela het gisteraand om tien voor nege op 95-jarige ouderdom in sy Houghton-woning in Johannesburg gesterf na ‘n lang siekbed.
Intussen kan Madiba se afsterwe tot ‘n uitstort van nasionalisme en ‘n gevoel van samehorigheid lei, wat kan bydra tot ‘n verstewiging in die wisselkoers.
Die ekonoom, Dawie Roodt, sê Suid-Afrikaners was die afgelope tyd verdeeld op ‘n aantal fronte wat politieke en ekonomiese denkrigtings insluit.
"Dit is miskien ‘n hartseerdag, maar dit is nie ‘n slegte dag nie en dit kan lei tot die samehorigheid en nuwe uitstort van nasionalisme wat dalk die wisselkoers van die rand kan affekteer. Op die lang termyn dink ek nie dat dit die markte of die ekonomie sal raak nie."