Madelaine kan met bestes meeding

0
599
 RUFUS BOTHA

Madelaine le Roux (Hoërskool Sentraal) het verlede week by die Vrystaat-dubbelkampkampioenskap in Bloemfontein gewys dat sy met ‘n opwaartse peil hiervandaan met die bestes in die wêreld in die juniorafdeling kan meeding.

Le Roux het in die afdeling vir meisies 18 tot 19 jaar ‘n spogtyd van 1:06:15 aangeteken in ‘n wedloop waar sy ‘n 5 km-hardloopskof, 20 km-fietsry en daarna weer ‘n hardloopskof van 2,5 km onder die knie moes kry.

Omrede moeilikheidsgrade van bane verskil is dit dikwels die geval van die spreekwoordelike appels met pere vergelyk, maar dit is interresant om daarop te let dat Le Roux met haar genoemde tyd die negende plek uit 14-atlete wat die wedloop voltooi het (juniorvroue-afdeling) sou behaal het by verlede jaar se wêreldkampioenskap in Spanje.

Die wentyd van die Italianer, Angelica Olmo (1:03:38) is egter bykans drie minute vinniger as Le Roux en laasgenoemde sal diep in haar reserwes moet delf indien sy in die toekoms aanspraak wil maak op ‘n wêreldkampioenskaptitel.

Die bronsmedaljewenner by die kampioenskap in Spanje, Claudia Luna (1:05:32) het egter voor haar tuisskare slegs 43-sekondes vinniger as Le Roux vermag en dit alleen lyk belowend.

In die wedloop vir seuns (18 tot 19 jaar), waar die manne dieselfde afstande as Le Roux moes aandurf, het Daniël van Niekerk (Sentraal) ‘n wentyd van 1:01:27 daargestel. Hy sal egter met dié tyd (ook gemeet aan die wêreldkampioenskap) vir seker nie die wêreldbestes in die juniormans-afdeling slapelose nagte besorg nie. Hy sou met ‘n beskeie 27ste plek uit 29-atlete wat die wedloop voltooi het tevrede moes wees.

In die ouderdomgroepwedloop vir mans 25 tot 29 jaar het Charlie Louw by die Bloemfontein-byeenkoms loshande koning gekraai in 2:08:34 en sodoende die silwermedaljewenner Stegman van Zyl (2:10:33) op een sekonde na met twee minute die loef afgesteek. Louw sou ook nie hond-haaraf gemaak het by die Spanje-kampioenskap van verlede jaar nie. Sy tyd was meer as tien minute stadiger as die wenner by die wêreldkampioenskapbyeenkoms. En dit is in die ouderdomsgroep-afdeling en nié in die elite-afdeling waar die kompetisie nog strawwer is nie.

‘n Titaniese stryd het hom afgespeel in die afdeling vir mans 20 tot 24 jaar toe Louis Venter (2:09:43) na meer as twee ure se vasbyt net-net met 18-sekondes van die silwermedaljewenner, Japie Blignaut (2:10:01) ontslae kon raak.