Die Suid-Afrikaanse en Afrikadriekampkampioen vir junior meisies, Madelaine le Roux, is oorgehaal om goeie vertonings agter haar naam te skryf in haar laaste paar maande as junior driekampatleet. Van 2017 af neem sy as senior (onder 23) deel. Hoewel sy nie haar beste vertoning op die onlangse wêrelddubbelkampkampioenskap gelewer het nie, weet sy waarheen sy op pad is. Le Roux se pa, De la Harpe, het aan Courant gesê sy het internasionale ervaring nodig en wil graag goed doen by twee byeenkomste in Europa, wat op haar agenda is. Sy en agt SuidAfrikaners vertrek op 28 Junie na die Europese junior driekampbyeenkomste wat vroeg in Julie onderskeidelik in Holten (Nederland) en Tiszaujvaros (Hongarye) aangebied word. De la Harpe het aan Courant gesê: “Afhangend van of sy gekies word en/of genoegsame borgskappe bekom word, wil Madelaine graag aan die wêreld- driekampkampioenskap in September in Cozumel (Mexico) deelneem. Dit is haar laaste jaar as junior en van 2017 af sal sy aan die Olimpiese afstande begin deelneem in die onder 23-afdeling.” De la Harpe het bygevoeg dat Madelaine ‘n loopbaan in driekamp nastreef en daarvan droom om eendag vir Suid-Afrika aan die Olimpiese Spele deel te neem.
info@bloemfonteincourant.co.za